loading
Artikels
1 jaar gelede
studielenings-vir-vyf-tuisversorgers

Foto Krediet: OkayDeer

Studielenings vir vyf tuisversorgers

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit het ʼn hart wat omgee. Met die doel om ʼn sterker gemeenskap te skep wat mekaar deurlopend ondersteun, werk Solidariteit saam met die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut om hulp te verleen aan diegene wat versorging benodig sowel as aan diegene wat die versorging moet verskaf om só saam van krag tot krag te gaan.

Om hierdie hulp aan die gemeenskap te verleen, stel Solidariteit en die Helpende Hand Studietrust  vyf rentevrye studielenings aan studente in tuisversorging beskikbaar. Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut skep ʼn antwoord op die toenemende vraag na versorgers van gehalte wat in die gemeenskap ervaar word. Die opleidingskursus is daarop gemik om tuisversorgingstudente met lewensvaardighede toe te rus wat meer behels as net teoretiese opleiding.

Pieter van der Walt, operasionele bestuurder van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, sê dat dié instituut graag studente in gemeenskappe wil bemagtig om vir hulleself ʼn toekoms te skep deur te gaan studeer sonder dat ʼn gebrek aan finansies in hulle pad staan. “Hierdie studente kan dan teruggaan na hul gemeenskappe as steunpilare en gemeenskapsleiers om Afrikaanse gemeenskappe sodoende op te hef.”

Volgens Van der Walt is daar ʼn groot tekort aan professioneel opgeleide versorgers wat oor kwalifikasies van gehalte beskik, en poog hierdie opleidingsinstituut om ʼn antwoord op hierdie tekort te bied deur die diverse opleiding wat die instituut aanbied.

Hoe kan ek aansoek doen?

Rentevrye studielenings is eers terugbetaalbaar wanneer die student afgestudeer het. Indien jy in so ʼn lening belangstel, kan jy op hierdie skakel klik, waar jy ʼn vorm sal invul om jou persoonlike inligting te verskaf. Die volgende dokumente moet saam met jou aansoek ingedien word: ʼn gesertifiseerde afskrif van die voornemende student se ID-dokument, ʼn kop-en-skouers-foto van goeie gehalte (vir ʼn naamplaatjie indien jou aansoek suksesvol is), bewys van jou hoogste kwalifikasie verwerf, ʼn motiveringsbrief van 400 woorde (waarin jy verduidelik waarom jy die geskikte kandidaat is) en ʼn getuigskrif van ʼn onderwyser, predikant, of werkgewer.

Solidariteit en die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut hoop om heelwat aansoekers te kry en wil so veel as moontlik toekomstige versorgers oplei om kwalifikasies te verwerf wat in groot aanvraag in die Afrikanergemeenskap is.

“Die grootste ideaal is om mense met ʼn hart, deernis en empatie vir kwesbare persone op te lei en in staat te stel om hulle roeping uit te leef,” sê Van der Walt.

Lees hier meer oor die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Elke versorger wat sy of haar plek in die samelewing volstaan, is ʼn bewys van die verskil wat gehalte-opleiding in hulle lewe gemaak het. Moenie dat finansies in jou pad staan nie. Gebruik die geleentheid om aansoek te doen vir een van die vyf studielenings wat vir tuisversorgingstudie beskikbaar is. Doen dit sommer vandag nog – vul die aansoekvorm in en neem die eerste tree om ʼn merkbare verskil in die gemeenskap te maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie