loading
Artikels
7 maande gelede
vakansiewerk-stap-so-die-ekstra-myl

Foto Krediet: Verskaf

Vakansiewerk: Stap só die ekstra myl 

Deur Ané Janse van Rensburg

Vakansiewerk kan ʼn deurslaggewende rol in jou beroepsontwikkeling speel. Dit is die x-faktor wat jou bo die res laat uitstaan en dit wys vir potensiële werkgewers dat jy die ekstra myl sal stap wat die meerderheid nie noodwendig bereid is om te stap nie.

Ons het met Aldo Landsberg, ʼn klerk by Deneys Zeederberg Attorneys, gesels oor die belangrikheid van vakansiewerk spesifiek in die regsbedryf.

Kan jy vir ons meer vertel oor jou ervaring met vakansiewerk? Wat het jy tydens jou vakansiewerkgeleentheid geleer?

Ek het gedurende my studie by verskeie firmas vakansiewerk gedoen, en hoewel elke ervaring hemelsbreed van mekaar verskil het, het hulle as geheel een belangrike ding in gemeen gehad. Na afloop van elkeen het ek weer besef hoe min ek eintlik weet!

Hoekom dink jy is dit belangrik vir studente om vakansiewerk te doen, selfs al is dit nie direk in hul studierigting nie?

Op grond van my ervaring is vakansiewerk tydens jou studie een van die belangrikste dinge wat jy kan doen. Behalwe dat dit goed lyk op jou CV, bied dit ook ʼn enorme “wake-up call”. Jou idee oor wat die praktyk is of gaan wees, is dikwels so ver van die werklikheid verwyder soos die verwagting vir goeie weer in die Kaap. Dit is nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Ek was aanvanklik nie van plan om as ʼn prokureur te praktiseer nie en wou eerder in finansies werk. Tog het my vakansiewerk-ervaring my laat besef dat die praktyk regtig is waar ek hoort. Daarom sal ek juis vir diegene wat nie die praktyk oorweeg nie aanraai om vakansiewerk te doen; jy mag dalk jou planne heeltemal verander!

Watter vaardighede dink jy het jy ontwikkel wat jy nie noodwendig in die klaskamer sou aanleer nie?

Vakansiewerk en later klerkskap is te kort om jou alles of selfs genoeg te leer om die beste prokureur te wees. Wat dit wel bied, is ʼn nuwe en praktiese manier van dink en hoe om probleme te benader. Hierdie manier van dink sal jou toerus om met ervaring en harde werk al die ander vaardighede te bekom wat sal verseker dat jy wel in die toekoms ʼn goeie prokureur sal wees.

Hoe het jou ervaring met vakansiewerk jou gehelp om jou loopbaanpad beter te verstaan?

Die streng teoretiese benadering van sekere modules en vakke op universiteit kan sommige regsvakke vervelig laat voorkom, terwyl dit in die praktyk dikwels heeltemal die teenoorgestelde is. Vakansiewerk bied studente die geleentheid om beide die aspekte waarin hulle belangstel, sowel as dié waarin hulle dink hulle nie belangstel nie, in die praktyk te ervaar. Weereens, die idee van die praktyk wat jy as student in jou gedagtes het, verskil hemelsbreed van die werklikheid en die kanse is groot dat jou belangstellingsveld heeltemal gaan verander.

Dink jy vakansiewerk kan ʼn verskil aan jou CV maak en jou kanse om in die toekoms ʼn werk te kry? Indien ja, hoe?

Definitief! ʼn Potensiële prokureur sonder vakansiewerkervaring is soos ʼn braai sonder wors — jy mis iets belangrik. Dit wys dadelik vir ʼn potensiële werkgewer dat jy bereid is om die ekstra myl te loop, ʼn eienskap in my opinie wat elke goeie prokureur moet hê of ontwikkel. Om ʼn prokureur te wees in nie noodwendig elke dag net ʼn nege tot vyf werk nie!

Watter uitdagings het jy teëgekom tydens jou vakansiewerk, en hoe het jy dit oorkom?

Wanneer jy by enige firma instap, besef jy onmiddellik hoe min jy eintlik weet. Al is dit ʼn groot knou vir jou ego om dit te erken, hoe vinniger jy dit aanvaar, hoe beter. Ek het dit in die begin oorkom deur te besef dat almal wat meer weet, ook eers in my posisie was. Die prys om goed te wees in enigiets, is om bereid te wees om aan die begin ʼn bietjie simpel te lyk. Onthou, almal lyk dalk soos ʼn kat wat probeer swem in die begin, maar sodra jy gewoond raak aan die water, word jy vinnig ʼn haai waarvoor almal padgee! So, sluk jou trots en aanvaar dat jy 10 000 dom vrae gaan moet vra (lees eers die hofreël voordat jy ʼn vraag vra – ek het dit op die harde manier geleer), baie gaan moet lees en foute gaan maak. Dit is die enigste manier om te leer.

Watter raad sal jy aan studente gee wat oorweeg om vakansiewerk te doen, maar onseker is of dit vir hulle die moeite werd is?

As jy dit oorweeg om in praktyk te werk, is vakansiewerk ʼn absolute móét. Maar as jy nie van plan is om in praktyk te gaan werk nie, is vakansiewerk nog meer noodsaaklik! Dit plaas jou in ʼn posisie om ʼn beter en meer ingeligte besluit oor jou toekoms te neem. Boonop is jy reeds in die vinnige baan sodra jy met jou klerkskap begin.

Hoe dink jy kan vakansiewerk bydra tot die ontwikkeling van ʼn student se professionele netwerk?

Alhoewel daar baie prokureurs in ons land is, bly die regswêreld baie klein. Almal van belang ken mekaar of weet ten minste van mekaar. Vakansiewerk bied jou die geleentheid om baie vinniger en vroeër in jou beroep hierdie netwerk te begin bou.

Wat is die grootste verskil wat jy dink vakansiewerk gemaak het in jou persoonlike en professionele groei?

Die vermoë om mense wat ouer as ek is, en waarvoor ek gewoonlik ‘oom’ en ‘tannie’ sou sê, op hulle naam te noem en op ʼn gelyke, professionele vlak met hulle te kommunikeer. Dit mag dalk eenvoudig klink, maar ʼn groot deel van ons Afrikanerkultuur is respek vir ouer mense. Vakansiewerk help jou om vroeër die professionele wêreld binne te tree sodat jy jouself reeds met selfvertroue en professionaliteit kan dra teen die tyd wat jy met klerkskap begin en jouself tussen senior mense bevind. Vakansiewerk leer jou om met almal op ʼn gelyke en selfversekerde manier te praat, sonder om die nodige respek te verloor. Hierdie vaardigheid is waardevol en sal help om in die professionele wêreld te floreer.

Of jy nou aan jou CV wil bou, praktiese ervaring wil opdoen, jou vaardighede wil ontwikkel, jou loopbaanrigting wil bepaal of netwerke wil bou, vakansiewerk as ʼn voornemende in die regslui is ʼn móét! Solidariteit wil saam met jou jou beroepspad aandurf! Skep vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by die Solidariteit Regsnetwerk waar jy saam met ʼn ondersteunende gemeenskap aan jou suksesstorie kan skryf!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie