
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Virseker kraai koning as beste korttermynversekeraar
Deur Marné Pienaar
Virseker, Suid-Afrika se enigste trots Afrikaanse versekeringshandelsmerk, is sopas aangekondig as die beste korttermynversekeraar in die gesogte Ask Afrika Orange Index®.
Dié indeks is reeds vir 23 jaar die mees omvattende en wyd aangehaalde maatstaf van uitnemendheid in kliëntediens. Dit dek 26 verskillende industrieë en 200 handelsmerke, en maak gebruik van 45 000 kliënte-onderhoude om faktore soos kliënte-tevredenheid, emosionele tevredenheid en lojaliteit te meet en daardeur die wenners in elke kategorie te bepaal.
“Hierdie wen is vir ons ʼn enorme eer omdat dit toon dat Virseker nie alleen trots Afrikaans praat nie, maar ook trots Afrikaans dien.”
Só sê Johanni Jennings, bemarkingshoof by Virseker.
“Dis ʼn groot wen juis omdat dit op die verbruiker – mense wat ons daagliks op die proef stel – se stem staatmaak. Ons belofte van uitnemendheid is nie net slim bemarking nie. Hierdie aankondiging bewys dat ons werklik streef om ʼn vennoot te wees waarop individue en sakeondernemings kan reken.”
Virseker het, sedert sy ontstaan in 2011, altyd ten doel gehad om topklasversekering in Afrikaans te lewer. Vandag, 13 jaar later, het dié handelsmerk derduisende kliënte wat van ryding tot rekenaar; van huis tot hond, by ʼn naam laat verseker wat bekend is daarvoor dat hulle 100% van alle geldige eise uitbetaal.
Nie net is Virseker ʼn uiters betroubare en effektiewe korttermynversekeraar nie, maar die publiek kan ook reken op Virseker se trotse bydrae aan Afrikaanse opleiding. Ja, Virseker bou prakties in Afrikaans, vír Afrikaans. Danksy polishouers se maandelikse premiebydraes aan die Virseker Trust, kon Virseker tot op hede meer as R154 miljoen in Afrikaanse onderwys, tersiêre opvoedingsinstansies en gemeenskapsondersteuning belê.
Vir die bobaas, baanbrekersbreine van môre word Akademia – ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit, die Solidariteit Helpende Hand Studiefonds, die Afrikaanse Taalraad, die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) en die WEET e-Naslaangids onder andere deur Virseker-polishouers ondersteun.
Of dit ʼn wa is wat deur ʼn drif getrek moet word en of dit harde klippe is waaraan daar gehelp kou moet word, sit Virseker ook skouer aan die wiel met gemeenskapsinisiatiewe soos Die Pionierskool vir Siggestremdes, die Helpende Hand Noodfonds en die nasionale Skooltassieprojek, deur hulp te verleen waar dit desperaat benodig word.
“Elkeen by Virseker vorm deel van ʼn hegte eenheid wat kliënte absoluut altyd eerste stel. Hierdie toekenning vuur ons aan om net nog meer en nog beter te doen. Virseker is van dié beste versekeringsdienste in Suid-Afrika, en ons beplan om dit so te hou,” sê Jennings.
Solidariteit en Virseker bou saam aan die toekoms van Afrikaans. Solidariteit en Virseker se baanbrekersamewerking word reeds jare lank bevestig met beide organisasies wat die toekoms van Afrikaanse onderwys en kultuur bevorder. Lees meer oor hierdie samewerking en hoe jy betrokke kan raak om te help bou aan die toekoms van Afrikaans.