JUNIOR BEAMPTE: SOSIALE MEDIA
Gekopieër
Akademia is ʼn geregistreerde onafhanklike hoëronderwysinstelling wat in Centurion geleë is. Akademia het ʼn voltydse pos as junior beampte: Sosiale media in die Bemarking en Kommunikasie-afdeling beskikbaar. Om te kwalifiseer vir die pos word ʼn baccalaureusgraad in Kommunikasiebestuur, Bemarking en/of Joernalistiek vereis, ʼn honneursgraad in een van die voorafgenoemde rigtings sal in die kandidaat se guns tel. Verder is een tot twee jaar se ervaring in inhoudsgenerering en veldtogte dryf vir sosiale media, spesifiek vir platforms soos Facebook, Instagram, TikTok, LinkedIn en X ʼn voorvereiste vir die pos. Kennis van Akademia, en van die hoëronderwysomgewing in die algemeen, sal hoog aangeskryf word.
Ervaring met die bestuur van platforms asook inisiëring en implementering van sosialemediaveldtogte deur gebruik te maak van programme soos HootSuite en Business Manager, en ervaring met die gebruik van die Adobe Suite (spesifiek Illustrator, InDesign, Photoshop en Premiere Pro) sal in die kandidaat se guns tel. ʼn Sterk aanvoeling vir taal, inhoudskepping en die implementering van nuwe sosialemediatendense is wenslike eienskappe van die ideale kandidaat.
Die junior beampte sal verantwoordelik wees vir onder andere die volgende take en pligte binne die afdeling: inhoudgenerering vir sosiale media; die saamstel van innoverende sosialemediaveldtogte; sosialemediakoördinering; regstreekse sosialemediadekking by funksies; die skryf van sosialemedia-artikels; verslagdoening oor sosialemediaprestasie; die neem en redigering van foto’s en video’s vir sosiale media; sowel as die uitvoer van die sosialemediastrategie. Die ideale kandidaat sal ook getaak word om kommunikasienavorsing uit te voer oor nuwe sosialemediaplatforms en -tendense en -voorkeure; sowel as die breër span ondersteun met ander kommunikasietake soos deur die lynhoof versoek.
Die ideale kandidaat sal onderskei word deur uitsonderlike kommunikasievaardighede, ʼn oog vir fynere besonderhede, taal- en skryfvaardighede, organiserings- en prioritiseringsvermoë, aanbiedingsvaardighede, rekenaarvaardighede, kreatiwiteit, ʼn positiewe ingesteldheid, dryfkrag, motivering en inisiatief, asook die handhawing van goeie menseverhoudinge. Die ideale kandidaat moet onafhanklik en binne ʼn span kan funksioneer asook sperdatums onder druk handhaaf.
Maak asb. gebruik van die onderstaande Akademia skakel om vir die pos aansoek te doen. Aansoeke moet voor of op 10 Maart 2025 ingedien word. Stuur ʼn e-pos na personeelnavrae@akademia.ac.za en heg jou Afrikaanse CV daarby aan indien jy probleme met die skakel ervaar. Maak asb. gebruik van hierdie skakel om aansoek te doen vir die pos https://posaansoeke.akademia.ac.za/doen-aansoek/