Kantoor- en aanlynverkoopspersoon
Gekopieër
Ons soek 'n Kantoor persoon wat meer as een ding op ñ slag kan doen...
Is jy die tipe persoon wat daarvan hou wanneer dinge netjies, korrek en volgens 'n goeie sisteem werk?
Kan jy selfstandig werk, maar ook lekker deel wees van 'n klein span? Is jy gemaklik met kliënte, rekenaars, sosiale media én om jou moue op te rol en 'n paar bokse te pak?
Dan wil ons graag van jou hoor!
Ons is op soek na 'n verantwoordelike, noukeurige en energieke E-commerce (Online sales) en kantoorpersoon om by die 101 Pet Products-span aan te sluit.
Hierdie is 'n praktiese pos waar jy betrokke sal wees by amper elke deel van ons e-commerce besigheid — van bemarking en kliëntediens tot voorraad, bestellings en versendings.
Belangrik: Ons verkoop nie diere nie, versorg nie diere nie, speel nie met diere nie... Ons verkoop diereprodukte aan diere mammas en -pappas en help hulle so goed ons kan met raad en idees vir hul vierpootkinders.
🐶 WAT GAAN JY DOEN?
Jou verantwoordelikhede sal onder andere insluit:
- Ons webwerf op datum hou, insluitend produkte, pryse, voorraad en inhoud.
- Produkte en bestellings op Takealot en Amazon bestuur en op datum hou.
- Basiese bemarking vir Facebook en ander digitale kanale doen.
- Produkte aktief bemark en help om ons kliëntebasis te laat groei.
- Kliënte professioneel en vriendelik via WhatsApp, e-pos en ander kanale help.
- Bestellings verwerk en seker maak dat elke bestelling korrek is.
- Produkte pak en voorberei vir versending — ja, jy gaan bokse pak!
- Algemene administrasie en rekordhouding.
- Bestaande prosesse volg en help om beter en meer doeltreffende maniere van werk te identifiseer.
💜 WIE SOEK ONS?
Ons soek iemand wat:
Uiters noukeurig is.
Lief vir detail is een van die belangrikste vereistes vir hierdie pos. 'Amper reg' is ongelukkig nie reg nie.
Afrikaanssprekend is en baie goeie geskrewe Afrikaans het.
Ons kliëntebasis is hoofsaaklik Afrikaans en ons bemarking word in Afrikaans gedoen. Goeie Afrikaans en spelling is dus nie onderhandelbaar nie.
Goed met mense is.
Jy gaan daagliks met kliënte werk (meestal op WhatsApp). Ons soek iemand wat vriendelik en professioneel kommunikeer en werklik goeie kliëntediens wil lewer.
Van prosesse en sisteme hou.
As lyste, orde en 'n lekker werkende sisteem jou gelukkig maak, gaan jy waarskynlik lekker hier werk. 😄
Selfstandig kan werk.
Ons soek iemand wat 'n taak kan vat en dit kan deurvoer sonder dat iemand voortdurend moet opvolg.
Ook goed in 'n span kan werk.
Ons is 'n klein span en almal help waar dit nodig is.
Hou van nuwe dinge leer.
Ons kliënte gaan jou kontak vir raad en advies wat wissel van watter kossies om vir Wagter te koop, tot watter shampoo Fiefie gaan laat ophou juk en watter katspeelgoed sal maak dat Lillie uiteindelik ophou om die gordyne uit te klim.
Ons soek iemand wat:
🐾 baie noukeurig en verantwoordelik is
🐾 gemaklik met rekenaars en tegnologie is
🐾 goed met mense werk en uitstekende kliëntediens kan lewer
🐾 selfstandig kan werk én lekker deel van ’n klein span kan wees
🐾 bereid is om te leer, planne te maak en probleme op te los
🐾 nie bang is om moue op te rol en ook bestellings en bokse te pak nie