loading
Artikels
1 dag gelede
bbp-syfers-dringende-ingryping-broodnodig-om-die-ekonomie-te-red

Foto Krediet: Solidariteit

BBP-syfers: Dringende ingryping broodnodig om die ekonomie te red

Theuns du Buisson

Bykans alle sektore wat in die tweede kwartaal van vanjaar groei getoon het, het in die voorafgaande kwartaal ingekrimp.

Daarom is dit volgens ekonomiese navorser Theuns du Buisson bykans naïef om die 0,8%-groeisyfer van die tweede kwartaal as “groei” te bestempel.

Hy meen dit is ooroptimisties om hierdie syfers as werklike groei te beskou, aangesien dit veel eerder herstel genoem kan word.

“Ons is natuurlik bly oor die groei, maar ons moet ook realisties wees. In dieselfde tydperk was inflasie op 0,6% en reële groei is dus ʼn skamele 0,2%.

“In die eerste kwartaal was groei net 0,1%. Tot dusver staan inflasie op 3,3% vir die jaar. Dus, in reële terme, is die land in resessie,” verduidelik Du Buisson.

Wat volgens hom selfs meer kommerwekkend is, is hoe Suid-Afrika nou reeds vir die vierde agtereenvolgende kwartaal negatiewe vastekapitaalvorming beleef.

“In terme van belegging boer ons dus onverstoord agteruit. Die sluiting en afskaal van aanlegte in verskeie bedrywe maak dit ook uiters onwaarskynlik dat hierdie situasie in die komende kwartaal sonder daadwerklike ingryping sal herstel.”

“Die wêreld is weens verskeie faktore huiwerig om in Suid-Afrika te belê, terwyl die veelbesproke tariewe uitvoere na die VSA onder druk plaas.”

“Maar dit gaan veel verder: Daar is nog nie sekerheid oor die beskikbaarheid van voldoende elektrisiteit of spoorvervoer nie, en daar heers groot twyfel oor eiendomsreg na die ondertekening van die Onteieningswet,” sê Du Buisson.

Volgens hom behoort die volgende sake dringend op president Ramaphosa se prioriteitslys te wees:

  • • Skep sekerheid rakende elektrisiteit, spoorvervoer, beleggings en eiendomsreg.
  • • Antwoord eerlik op vrae rondom energiesekerheid, of verskaf minstens ʼn tydlyn van wanneer daar genoeg elektrisiteit sal wees om ekonomiese groei te dryf.
  • • Bied dieselfde duidelikheid oor die privatisering van spoorvervoer.
  • • Skrap die Onteieningswet wat ook ʼn groot stap in die regte rigting sal wees om vertroue by potensiële beleggers te herstel.
  • • Gaan dringend ʼn handelsooreenkoms aan met die VSA.

Du Buisson beklemtoon dat Suid-Afrika steeds oor die potensiaal beskik om groot internasionale beleggings te lok.

“Maar voordat hierdie knaende vrae nie eers beantwoord word nie, sal dit nie gebeur nie, en Suid-Afrika se ekonomie sal al verder in duie stort,” waarsku hy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel