
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Impak van handelstariewe: Solidariteit reik eerste tarief-barometerverslag uit
Solidariteit het pas sy eerste tarief-barometerverslag uitgereik, wat die impak van die VSA se handelstariewe op Suid-Afrika en sy verskeie bedrywe ontleed. ʼn Soortgelyke barometerverslag sal maandeliks uitgereik word.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), wys die barometer hoe vrye handel deur tariewe ingeperk word en beklemtoon dit die gevolge van die regering se gebrek aan ingryping.
Die verslag vir September toon reeds kommerwekkende tendense, hoewel die impak vir nou nog beperk is.
“Tans word die algemene tarief van 30% nog nie in die data weerspieël nie. Die impak op staaluitvoere is wel reeds duidelik. Staal van regoor die wêreld is sedert Februarie aan ʼn algemene tarief van 25% onderworpe. Die gevolge is verwoestend.
“Ons kan verwag dat die impak op ander bedrywe net so groot, en uiteindelik selfs groter kan wees. Die regering moet leer uit wat met staaluitvoere gebeur het en so gou as moontlik ʼn handelsooreenkoms met die VSA aangaan,” sê Du Buisson.
Volgens hom is daar oorgenoeg rede waarom so ʼn ooreenkoms realisties en onderhandelbaar is.
“Die vrugtebedryf, veral sitrus, lewer nie produkte op dieselfde tyd as die VSA nie. Ons kompeteer dus nie mét hulle nie, en ons uitvoere is eerder aanvullend tot hul eie produksie. Dus is ʼn vrystelling in hierdie geval bloot vanselfsprekend,” sê Du Buisson.
Intussen eis Solidariteit dringende ingryping terwyl verskeie bedrywe in Suid-Afrika tans afleggingskennisgewings aan werknemers en vakbonde gee.
“Die regering moet geensins onderskat hoeveel van hierdie tariewe polities gemotiveerd is nie. Daar moet eenvoudig dringend opgetree word om te voorkom dat hele bedrywe deur die tariewe vernietig word – iets wat ʼn besliste moontlikheid is.”
SNI glo hierdie barometer is broodnodig om hierdie impak te maak. Aangesien Solidariteit-lede regstreeks deur minder uitvoere na die VSA geraak word, is dit van kritieke belang om die impak te peil.
Solidariteit was ook van meet af aan by gesprekke met die VSA betrokke oor die behoud van die Agoa-handelsooreenkoms, en het deurgaans die belangrikheid van vrye handel tussen Suid-Afrika en die VSA beklemtoon – vir Solidariteit-lede en vir alle Suid-Afrikaners.