
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Duisende in motorbedryf kan hul werk verloor – dit het baie met beleid te make
Deur Robin-Lee Maré
Die motorbedryf in Suid-Afrika staan voor ernstige uitdagings wat moontlik duisende werkgeleenthede op die spel plaas. Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het in ʼn onderhoud met Moneyweb gewaarsku dat strukturele probleme, internasionale markfaktore en regeringsbeleid tot landswye werkverliese kan lei. Luister na die volledige onderhoud hier.
“Op die oog af moet ons Ford se verklaring oor markaanvraag aanvaar, maar tydens konsultasies gaan ons beslis dieper delf,” sê Venter. Hy beklemtoon dat voertuigvervaardigers al jare lank verskeie strukturele probleme uitgewys het wat druk op hulle plaas om nie net in die plaaslike mark nie, maar ook in uitvoermarkte te kompeteer. “Ons het nog geen drastiese of dringende ingryping gesien om daardie probleme op te los nie. By Solidariteit is ons nie oortuig dat Ford nie ook deur dieselfde strukturele probleme geraak word nie,” voeg hy by.
Venter wys verder op die impak van internasionale faktore en die impak van die Trump-tariewe. Alhoewel Ford nie baie voertuie na die VSA uitvoer nie, word ander vervaardigers, soos Mercedes, duidelik deur Amerikaanse tariewe geraak. “Mercedes het reeds hul bekommernisse uitgespreek oor die impak van die tariewe op hulle uitvoere van C-klas-voertuie na die VSA. Ons sal ondersoek instel of soortgelyke strukturele probleme ook ʼn invloed op Ford se bedrywighede het,” sê Venter.
Volgens Venter kan die sluiting van ʼn enkele vervaardiger ʼn domino-effek op die hele sektor hê. “Net in die motorsektor kan die sluiting van Ford, wat ons hoop nooit gebeur nie, byna 5 000 werknemers raak. Mercedes alleen het meer as 2 500 werknemers in die Oos-Kaap. BMW en Volkswagen SA voer ʼn groot persentasie van hul voertuie uit. Sonder ʼn doeltreffende tariefbeleid of handelsooreenkoms met die VSA kan groot werkverliese volg,” waarsku hy.
Hy haal die onlangse sluiting van Goodyear aan as ʼn voorbeeld van hoe internasionale maatskappye vervaardigingsvermoë na goedkoper lande kan verskuif. “Negehonderd werknemers en hul gesinne sit sonder ʼn inkomste. Goodyear het hul kapasiteit uit Suid-Afrika geneem en na Europa verskuif, waar produksie meer koste-effektief is en minder burokratiese struikelblokke het. Hulle voer nou daardie produkte terug na Suid-Afrika in,” verduidelik Venter.
Venter kritiseer ook die regering se nywerheidsbeleid en infrastruktuurprobleme wat die bedryf benadeel. “Dit is een ding om te sê ons moet ons nywerheidsvermoë uitbrei, maar as beleide en die toepassing daarvan nie werklik nywerheidsuitbreiding ondersteun nie, is dit net praatjies. Hoë elektrisiteitstariewe, Transnet se onvermoë om behoorlike dienste te lewer, en handelsbeleide wat nie plaaslike vervaardiging beskerm nie, maak dat die bedryf nie mededingend kan wees nie,” sê hy.
Hy waarsku dat goedkoop invoere vanuit die Ooste, veral China en Indië, die mededingendheid van plaaslike vervaardigers ondermyn. “Stygende produksiekoste maak plaaslike maatskappye onmededingend. Die onlangse styging in ingevoerde voertuie het ook ʼn groot impak op plaaslike mededingendheid,” sê Venter.
Solidariteit doen ʼn dringende beroep op die regering om drastiese en effektiewe stappe te neem om die plaaslike nywerheid te beskerm en werkgeleenthede te red. Venter sluit af: “As daar reeds beleide vir industrialisering is, moet dit behoorlik geïmplementeer en ondersteun word om ekonomiese groei moontlik te maak en miljoene werkgeleenthede te beskerm.”