
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Cyril se staatsbank sal ons op ʼn ashoop langs Zimbabwe of Venezuela laat
Die koms van ʼn kommersiële staatsbank vir Suid-Afrika is volgens uitlatings van president Cyril Ramaphosa in die parlement ʼn uitgemaakte saak.
ʼn Veel slegter idee bestaan daar kwalik, en tog, in hierdie tye van akute nasionale verval, is dit ʼn staatsbank waarmee Ramaphosa ons graag moed wil inpraat.
Volgens die ekonomiese navorser, Theuns du Buisson, is die enigste rede waarom ʼn bank in staatsbesit gestig sou word die feit dat die staat dan roekelose krediet kan verleen. Suid-Afrika het geen goeie rede wat die oprigting van ʼn staatsbank regverdig nie.
“Duidelik leer president Ramaphosa nie uit die res van die wêreld se lesse nie,” sê Du Buisson. “Zimbabwe is deur die nasionalisering van banke vernietig. So ook Venezuela en vele ander lande. Sodra die staat in die lewering van finansiële dienste betrokke raak– veral krediet – is hiperinflasie onafwendbaar.”
Suid-Afrika se finansiële stelsels word wêreldwyd as een van die bestes erken. Die Reserwebank, en reeds bestaande handelsbanke, is grotendeels hiervoor verantwoordelik, verduidelik Du Buisson.
“Capitec se enorme sukses in die lae-inkomste-segment wys hoe goeie praktyke en uitkomste binne bestaande regulasies haalbaar is. Dit is ook reeds deur instansies soos Capitec gedoen; ʼn staatsbank kan dus geen waarde toevoeg nie.”
“Die enigste rede vir die vestiging van ʼn staatsbank, is om krediet op ʼn roekelose wyse te verleen. Sodra dit gebeur, sal alle vertroue in Suid-Afrika se finansiële stelsels verdwyn en sal ons hiperinflasie en ʼn oombliklike ineenstorting van die ekonomie beleef,” verduidelik Du Buisson.
Hy beskou die vestiging van ʼn staatsbank in Suid-Afrika as “by ver die grootste risiko vir ons ekonomie.”
“As dit gebeur, is die rand daarmee heen en beland Suid-Afrika oombliklik op die ashoop saam met Zimbabwe en Venezuela,” waarsku hy.