loading
Artikels
1 dag gelede
lps-moet-die-gesondheidsorgfasiliteite-gebruik-wat-hulle-bestuur

Foto Krediet: Solidariteit

LP’s moet die gesondheidsorgfasiliteite gebruik wat húlle bestuur

Deur Kyla-Ann du Toit

Dink net: ʼn parlementslid wat ook in die ry by ʼn staatskliniek moet staan of in hospitale moet lê waar daar nie beddens of werkende toilette is nie. Wetgewing wat parlementslede dwing om die gesondheidsorgfasiliteite – waaroor hulle toesig moet hou – te gebruik, is dalk nie só ʼn slegte idee nie.

“Ons kla al jarelank oor die verval van ons land se openbare gesondheidsorginstellings,” sê Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese sektor. “Indien staatsamptenare self gedwing word om openbare gesondheidsorginstellings te gebruik, sal hulle miskien vinniger ontslae raak van al die skurke en pasiënte eerste plaas deur die gehalte van dienste te verbeter.”

Dít is Marx se reaksie op die privaat wysigingswetsontwerp wat onlangs deur ActionSA by die parlement ingedien is.

Hierdie voorstel beoog om verpligte lidmaatskap aan die eksklusiewe ParMed-mediesehulpskema te skrap en dit vrywillig te maak. Dit beteken dat LP’s self sal kan besluit of hulle by hierdie mediese skema wil aanbly, van ʼn ander mediese fonds gebruik wil maak, of – soos miljoene ander Suid-Afrikaners – openbare gesondheidsdienste wil gebruik.

Alhoewel Solidariteit persoonlike keuse ondersteun oor waar jy gesondheidsorgdienste wil kry, is Marx nuuskierig oor wat hierdie wetsontwerp vir openbare gesondheidsorg sal beteken.

Volgens Marx kan hierdie wetsontwerp daartoe lei dat die mense wat daarvoor verantwoordelik is om gesondheidsorginstellings te onderhou en om te verseker dat mense in die openbare sektor toegang tot gehalte-gesondheidsorg het, aan dieselfde omstandighede blootgestel te word – veral voordat die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) geïmplementeer word.

Dit gaan dus eerder oor ʼn beginselsaak: gesondheidsorg moenie ʼn dubbelstandaard hê nie. Almal moet sélf kan kies of hulle van privaat- of die staatsdienste gebruik wil maak.

Die regering kan nie verwag dat alle Suid-Afrikaners onder die NGV van openbare gesondheidsorg moet gebruik maak as hulle sélf nie eers daarvan gebruik maak nie. Diegene wat daarvoor verantwoordelik is om gesondheidsorg te bestuur, kan nie in ʼn beskermde borrel leef terwyl gewone mense in ʼn vervalle gesondheidstelsel moet oorleef nie.

Politieke leiers móét aanspreeklik gehou word. Sodra hulle aan dieselfde omstandighede ondergeskik is as wat gewone burgers daagliks aan ondergeskik is, sal hulle dalk net die wil hê om die gesondheidsorgstelsel werklik te verbeter.

Solidariteit voer al jare lank ʼn regstryd teen die NGV wat in 2024 deur president Cyril Ramaphosa bekragtig is, en argumenteer dat dit ongrondwetlik, irrasioneel en onvolhoubaar is.

ʼn Gesondheidsorgstelsel wat nie vir álmal werk nie, werk vir niemand nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel