
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die oplossing: ʼn Werkbeskermingsplan wanneer die staat ineenstort
Deur Kyla-Ann du Toit
Solidariteit het die huidige bloedbad van afleggings al van ver af gesien kom. Aan die een kant plaas dit selfs groter druk op die owerhede, wat steeds hul plig versaak – selfs al betaal die belastingbetaler ten duurste vir hom om dit na te kom.
In ʼn onlangse skrywe wat dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het, wys hy egter daarop dat daar wél oplossings bestaan, selfs te midde van die sluitings en afleggings.
In hierdie skrywe eis Solidariteit dat:
- • ʼn krisisvergadering met alle rolspelers belê word;
- • ʼn gunstige elektrisiteitstarief vir energie-intensiewe nywerhede sonder uitstel ingestel word;
- • ʼn multidepartementele taakspan saamgestel word om infrastruktuur- en handelsbottelnekke aan te spreek; en
- • die Departement van Arbeid tydelike verligtingsmaatreëls implementeer om werkers te ondersteun.
Hierdie voorstelle is swart op wit aan Ramaphosa voorgelê en word – soos verwag – tot dusver geïgnoreer.
Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, wys op die ernstige gevolge van hierdie gebrek aan optrede.
“Sonder daadwerklike en gekoördineerde optrede gaan die maatskaplike en ekonomiese koste van hierdie afleggings buite beheer eskaleer – dit bedreig nie net poste nie, maar Suid-Afrika se hele industriële toekoms,” sê hy.
Suid-Afrikaners in die geheel behoort baie, baie kwaad te wees vir die ANC en Ramaphosa.
Sommige Suid-Afrikaners bly egter oordeelkundig en soek nie hul redding by ʼn verbrokkelende staat nie. Hulle eis meer van die regering, maar verwag natuurlik minder.
Terwyl die mislukte regering dus maak of hy aan ʼn plan werk, het Solidariteit ʼn werklike Beskermingsplan saamgestel wat daarop gemik is om sy lede se werk en inkomste te beskerm.
Die plan beskerm lede op vier fronte:
- 1. Beskerming teen diskriminasie: Solidariteit tree op teen onregverdige wette en beleide – soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en ander rasgebaseerde maatreëls – wat lede se werksgeleenthede bedreig.
- 2. Beskerming van opleiding: Die plan prioritiseer die behoud en uitbreiding van Afrikaanse opleiding en beroepsontwikkeling. Dit gee lede toegang tot hoëgehalte-onderrig, vaardigheidsprogramme en beroepsgeleenthede in Afrikaans, met ʼn sterk klem op voortgesette opleiding en die verbetering van vaardighede.
- 3. Beskerming van inkomste: Solidariteit help lede om hul inkomste te beskerm teen regeringsbeleid en ekonomiese agteruitgang. Dit sluit in regsaksies, die vestiging van eie instellings en strukture, en bystand waar lede se vermoë om inkomste te verdien bedreig word.
- 4. Beskerming van internasionale verhoudinge: Solidariteit werk aktief daaraan om bande met internasionale vennote te versterk en druk op die regering uit te oefen om regverdige handel en gesonde beleid te bevorder. Só word lede se toegang tot internasionale markte, tegnologie en geleenthede beskerm, terwyl die risiko van internasionale isolasie beperk word.
“Ons sê ʼn toekoms is nie moontlik sonder ʼn inkomste nie en ʼn inkomste is nie moontlik sonder werk nie,” sê dr. Hermann.
Suid-Afrika beskik oor die kundigheid, strukture én hulpbronne wat nodig is om selfs nou nog sy nywerhede te red en te laat herleef. Wat wel ontbreek, is politieke wil en bestuur. Totdat die regering sy verantwoordelikhede nakom, gaan die afleggings voortduur en nóg duisende gesinne gaan hul inkomste verloor.
Solidariteit se standpunt is duidelik: die regering kan, maar wil nie – en gewone mense betaal die prys daarvoor. Daarom moet hulle, soveel as moontlik, teen só ʼn mislukte staat beskerm word.