loading
Artikels
1 dag gelede
die-probleem-n-bloedbad-van-afleggings

Foto Krediet: ChatGPT

Die probleem: ʼn Bloedbad van afleggings

Deur Kyla-Ann du Toit

Suid-Afrika beleef tans een van die grootste golwe van afleggings in dekades. Groot maatskappye, onder meer ArcelorMittal (Amsa), Glencore, Ford Suid-Afrika, Assmang en Goodyear Suid-Afrika, het die afgelope weke afleggingskennisgewings uitgereik, terwyl enkeles selfs hul deure gesluit het. Daarmee is die werksekerheid van bykans ʼn kwartmiljoen Suid-Afrikaners op die spel.

Die omvang van die krisis is enorm. By Amsa is meer as 4 000 poste in gevaar weens die beplande sluiting van langstaalfabrieke, terwyl die sluiting van sy Saldanha-aanleg reeds in 2020 nog 900 werkverliese veroorsaak het. Glencore het 10 van sy 22 oonde gesluit en waarsku dat nog 2 425 direkte poste, 17 000 indirekte poste en 155 000 afhanklikes geraak kan word. Sy Merafe Chrome-aanlegte het reeds duisende mense getref.

Assmang het sowat 1 000 poste by Beeshoek en Cato Ridge afgeskaal, en Goodyear se Kariega-aanleg het in Augustus 2025 sowat 900 werkgeleenthede verloor. Intussen het Ford ook afleggings aangekondig, met na raming 5 000 poste by Bridgestone, Continental en Sumitomo in gevaar, en nog 2 300 poste wat moontlik by Samancor Chrome se smelters verlore kan gaan.

Solidariteit beskryf hierdie reeks aankondigings as ʼn “afleggingsbloedbad” wat nie net individuele maatskappye bedreig nie, maar hele sektore. Hierdie gevalle is slegs enkeles waarvan Solidariteit in kennis gestel is, en die vermoede is dat daar nog vele meer op pad is.

Die huidige werkverliese spruit uit ʼn kombinasie van strukturele probleme: Eskom se stygende elektrisiteitskoste maak plaaslike produksie onmededingend, terwyl die ineenstorting van Transnet se spoor- en hawe-infrastruktuur vervoerkoste laat styg en uitvoere vertraag. Daarby word die bedryf verder geknou deur goedkoop invoere en storting. Goodyear moes reeds sy deure sluit nadat goedkoop bande uit Asië die mark oorstroom het, en Amsa waarsku al jare lank dat goedkoop staal plaaslike vervaardiging onhoudbaar maak.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, is elektrisiteitstariewe reeds vir gewone landsburgers onhoudbaar, en vir groot vervaardigers selfs rampspoediger, want hulle kan eenvoudig nie kostedoeltreffend produseer nie.

“Ons staalbedryf gaan al jare gebuk onder kragkrisisse, ʼn mislukte spoor- en hawestelsel en ʼn regering wat eenvoudig nie die beleidsbesluite kan neem om ons nywerhede te beskerm nie. Nou is duisende mense se werk en inkomste op die spel,” waarsku hy.

Venter beklemtoon dat internasionale maatskappye maklik kan besluit om produksie na ander lande te verskuif. “Ons sien dit reeds in die motorbedryf. Ford en Toyota meen dit raak bykans onmoontlik om plaaslik te kompeteer, en hulle gebruik toenemend fabrieke in lande soos Taiwan, waar regeringsbeleid plaaslike vervaardiging aktief ondersteun.”

Hy vergelyk dit verder met Taiwan wat ʼn paar jaar gelede nog op gelyke voet met Suid-Afrika in voertuigvervaardiging gestaan het, maar wat nou meer as 400 000 mense in diens het – ʼn bewys van hoe doeltreffende regeringsbeleid ʼn bedryf kan versterk.

Nog ʼn gevaar is die VSA se verhoogde invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte. Venter waarsku dat dit ʼn verwoestende effek kan hê. Solidariteit meen die regering se traagheid om die Agoa-ooreenkoms (Wet op Groei en Geleenthede in Afrika) te hernu of alternatiewe handelsooreenkomste te beding, stel honderde duisende poste in gevaar.

Daarom het Solidariteit in ʼn skrywe op 4 September 2025 ʼn dringende beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om persoonlik in te gryp om hierdie krisis die hoof te bied.

Solidariteit besef egter dit naïef is om daadwerklike, vinnige optrede van hierdie regering, en veral van Ramaphosa, te verwag.

Die skrywe (lees hier meer) wys egter dat oplossings wel moontlik was, en is, en dat ons nie hoef te wonder waar die blaam toegewys moet word nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel