
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Skenking van duisende speelgoed bring hoop vir maatskaplike werkers landwyd
Deur Kyla-Ann du Toit
Byna 3 800 bokse vol opvoedkundige speelgoed is aan die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk deur Eureka DIY geskenk. Altesaam 623 maatskaplike werkers het elk ses bokse speelgoed ontvang wat hulle in terapiesessies met kinders kan gebruik.
Op 10 September 2025 was die parkeerterrein by Solidariteit se hoofkantoor in Centurion stampvol soos wat maatskaplike werkers hulle bokse kom afhaal het. Almal het hande bymekaar gesit om die bokse rond te skuif en in die onderskeie voertuie te pak.

Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, beklemtoon haar opgewondenheid en dankbaarheid teenoor Eureka DIY. “Hulle het vir elke maatskaplike werker binne die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk wat met opvoedkundige speelgoed werk ʼn ongelooflike skenking gegee. Elke maatskaplike werker kry ses bokse met verskillende opvoedkundige speelgoed wat hulle in terapiesessies met kinders kan gebruik.”
Solidariteit het vandag reeds baie bokse uitgegee vir onder andere maatskaplike werkers in privaat praktyk en skole tot maatskaplike werkers by aannemingsmaatskappye, nieregeringsorganisasies (NRO’s) en kinderhuise.

ʼn Tasbare verskil vir kinders
Die speelgoed is nie net ʼn “bietjie ekstra” nie. Dit gaan werklik ʼn verskil in kinders se lewens maak.
Clarissa Muller, maatskaplike werker in privaat praktyk, beklemtoon die uitdagings wat sy ervaar om die nodige hulpmiddels aan te koop. “Hierdie skenking beteken vir my in my praktyk só baie. Die kinders waarmee ek werk word nie altyd blootgestel aan ʼn verskeidenheid speelgoed nie. Dit is veral moeilik in privaat praktyk omdat jy jou eie finansies moet gebruik om speelgoed aan te koop. Hierdie skenking gaan regtig baie vir my in my praktyk beteken, maar ook vir die kinders.”

Maatskaplike werkers by kinderhuise het ook hul waardering teenoor die skenking uitgespreek. Martie-Susan Coetzee, maatskaplike werker by Jakaranda en Louis Botha Kinderhuis, sê die skenking gaan ʼn verskriklike groot verskil in die kinders se lewens maak.
“Ek wil ongelooflik baie dankie sê aan Solidariteit vir die speelgoed wat hulle aan ons geskenk het. Ons gaan hierdie tipe speelgoed in terapeutiese prosesse gebruik en daarom waardeer ons hierdie skenking ongelooflik baie.”

Skole baat ook
Nie net kinderhuise nie, maar ook skole het hieruit voordeel getrek. Anebel Luus van Hoërskool Eldoraigne sê maatskaplike werkers het nie altyd die nodige hulpbronne nie en daarom word hierdie skenking regtig baie waardeer.
“Ek wil graag vir almal bedank wat hierby betrokke is. Dit beteken vir ons as maatskaplike werkers regtig baie, veral ons wat regtig sukkel om hulpbronne in die hande te kry om ons kinders te help.”
Racheal Johnston van Laerskool Garsfontein het dieselfde sentiment gedeel. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal wat hierdie vir ons skenk nie. Ons gebruik opvoedkundige speelgoed elke liewe dag. Al is ons in die ooste van Pretoria dink ek ons vergeet baie keer dat nie al die kinders altyd goeie vroeëkinderontwikkeling ontvang het nie. Ons gaan dit dus definitief ten volle benut.”

Hulpbronne wat hoop skep
Benewens die individuele verspreiding, het groot organisasies en instellings ook bokse ontvang. Kinderhuise soos Bramley, Louis Botha, President Kruger en Jakaranda, asook organisasies soos AFM Welfare, Tshwane Child Welfare, Urban Vest Foundation en Abba is onder die ontvangers.
“Die lekker nuus is dat vandag slegs die eerste van ses aflewerings is. Hierdie bokse gaan nie net in Pretoria versprei word nie, maar in die volgende 12 weke gaan elke maatskaplike werker regoor die land wat deel van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is, skenkings ontvang,” sê Smit.

Met hierdie skenking kry maatskaplike werkers regoor Suid-Afrika die broodnodige hulpmiddels om hul werk met meer kreatiwiteit en doeltreffendheid te doen.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk wil graag vir Eureka DIY bedank vir hierdie enorme skenking. Dit is ʼn gebaar wat hoop skep en maatskaplike werkers se hande ʼn klein bietjie ligter maak.