
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
‘Sertifikaat wat gesondheidspraktisyns kan hiet en gebied ongrondwetlik’ – Solidariteit
Solidariteit se regspan het vandag in die Konstitusionele Hof in Johannesburg ʼn sterk pleidooi gelewer dat gedeeltes in die Nasionale Gesondheidswet van 2003 wat gesondheidspraktisyns se reg misken om te besluit watter dienste hulle lewer, en wáár hulle dit lewer, as ongrondwetlik verklaar word. Uitspraak word voorbehou in dié saak waarin altesaam agt applikante, onder wie Solidariteit, die gevaar van die staat se gretigheid om hierdie gedeeltes op mediese praktisyns af te dwing, wil ontbloot.
Adv. Gretha Engelbrecht SC, namens Solidariteit en sewe van die applikante, het dit beskryf as ʼn swaard wat oor elke praktyk en praktisyn se kop hang. Op sy beurt het die staat se regspan aangevoer dat die behoeftesertifikaat ten doel het om transformasie en gelyke toegang tot gesondheidsorg in Suid-Afrika te bevorder.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê ʼn gunstige uitspraak kan ʼn reuse-oorwinning vir die vrye beoefening van gesondheidsberoepe wees en sal ook mense in ander beroepsvelde teen soortgelyke planne beskerm.
“In hierdie hofsaak bestry ons die staat se sentraliseringsdoelwit waarmee dokters, verpleegkundiges en enige ander gesondheidspraktisyn soos pionne deur die staat rondgeskuif kan word sodat die staat in effek sy eie onvermoë om Suid-Afrika van gehaltegesondheidsorg te voorsien, kan verbloem.
“Watter dokter, tandarts of fisioterapeut gaan hul praktyk onder dwang van die regering na ʼn afgeleë plekkie skuif – in die wete dat dit buitendien nie groter toegang tot gesondheidsorg gaan meebring nie? Mense in mediese beroepe sal dan veel eerder ʼn ander beroep beoefen waar hulle vry van inmenging kan werk,” sê Van Der Bijl.
Solidariteit glo ʼn gunstige uitspraak is van kardinale belang in die stryd teen sentrale staatsbeheer in die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgsektor, wat die staat deur die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) probeer uitbrei. Solidariteit se hofstukke oor die NGV is in Mei 2024 op die regering beteken. Daarin word die NGV as ongrondwetlik, immoreel en onbekostigbaar bestempel.
Kyk video vir meer.