loading
Artikels
1 dag gelede
afrikaansdag-solidariteit-vier-100-jaar-van-afrikaans-as-amptelike-landstaal

Foto Krediet: Verskaf

Afrikaansdag: Solidariteit vier 100 jaar van Afrikaans as amptelike landstaal

Afrikaans is al vir eeue aan die vorm, maar op 8 Mei 2025 vier ons iets besonders: Afrikaans se 100ste jaar as amptelik erkende landstaal. Lees meer!


Deur Leré Nel

Op 8 Mei 2025 vier Solidariteit saam met elke Afrikaner ʼn reusagtige mylpaal: Afrikaans is al 100 jaar ʼn amptelike taal in Suid-Afrika. Ons vier sóveel meer as net ʼn taal – dit is ʼn baken van identiteit, geskiedenis, en eg Suid-Afrikaanse gasvryheid, liefde en gemeenskapswaardes. Vir Solidariteit is hierdie eeufees ʼn geleentheid om nie net terug te kyk nie, maar ook vorentoe – na ʼn toekoms waarin Afrikaans steeds leef, werk, en groei.

ʼn Taal met diep wortels

Lank voor die amptelike erkenning daarvan in 1925 was Afrikaans reeds besig om gestalte te kry. Reeds in 1595 het ʼn vorm van Afrikaans aan die Kaap verskyn – ʼn spreektaal wat ontstaan het uit kontak tussen Europeërs en inheemse gemeenskappe. Teen 1652, toe Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het, was hierdie kontaktaal reeds gevestig.

Afrikaans het uit verskeie variëteite ontwikkel: Boerehollands, Platkaaps en selfs die minder bekende Hottentothollands. Die taal is die produk van ʼn mengsel van mense, kulture en invloede. Een van die interessantste feite oor Afrikaans se geskiedenis is dat die vroegste geskrewe vorm Arabiese letters gebruik het.

Die stryd om erkenning

Afrikaans is vir lank as ʼn “kombuistaal” afgemaak, maar individue en instellings het begin veg vir die erkenning daarvan as ʼn amptelike taal. Arnoldus Pannevis, ʼn Nederlandse taalkundige, was een van die eerstes wat besef het dat Afrikaans nie bloot ʼn dialek van Nederlands is nie – dit is ʼn taal in eie reg. Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 was die begin van ʼn georganiseerde taalbeweging wat tot Afrikaans se formele erkenning in 1925 sou lei.

Op 8 Mei 1925 het Afrikaans amptelik ʼn landstaal geword. Dit was nie net ʼn administratiewe besluit nie – dit was die formele erkenning van ʼn taal wat reeds met oorgawe in skole, huise, kerke en op straat geleef het.

ʼn Leeftaal wat steeds groei

Vandag, ʼn volle eeu later, is Afrikaans springlewendig. Volgens Statistieke Suid-Afrika se 2022-sensus is Afrikaans steeds die derde grootste taal in die land – met meer as 6,5 miljoen moedertaalsprekers. Afrikaans floreer ook op digitale platforms. Maroela Media het byvoorbeeld meer as 2 miljoen lesers per maand.

Afrikaans leef voort in universiteite, die letterkunde, musiek, films, en die howe – en dit ontwikkel saam met sy sprekers. Kunstefeeste soos die KKNK, films soos Barakat, en skrywers soos Adam Small, Ingrid Jonker en talle hedendaagse jong digters en kunstenaars, bewys dat Afrikaans steeds ʼn stem vir kreatiwiteit, geloof en hoop is.

ʼn Taal vir werk en waardigheid

By Solidariteit glo ons dat Afrikaans nie net ʼn kultuurerfenis is nie – dit is ʼn praktiese werktuig. Dis die taal waarin ons leer, werk, praat, bid en liefhet. Daarom veg ons daagliks vir die reg om in Afrikaans te werk en te leer. Ons bou instellings wat werk en opleiding in Afrikaans moontlik maak – van Sol-Tech, Akademia en Bo-Karoo Opleiding tot die Solidariteit Werk-platform, waar mense werk in Afrikaans kan aanbied en vind.

Ons staan op teen pogings om Afrikaans te onderdruk en ons bou aan ʼn toekoms waar die taal nie slegs oorleef nie, maar floreer.

Afrikaans100 – ʼn viering, maar ook ʼn verantwoordelikheid

Afrikaans se eeufees as amptelike taal is ʼn geleentheid om trots te wees, maar dit vra ook van ons almal om betrokke te raak. ʼn Taal leef slegs as mense dit gebruik, beskerm en oordra. As ʼn gemeenskap moet ons aanhou bou aan Afrikaanse onderrig, mediaplatforms, werksgeleenthede en instellings.

Op hierdie Afrikaansdag vier ons nie net ʼn eeu van erkenning nie – ons vier ʼn taal wat mense bymekaar bring, wat verskille oorbrug en wat sy sprekers bemagtig.

Gelukkige Afrikaansdag – en ʼn gelukkige 100ste bestaansjaar aan Afrikaans!
Afrikaans leef. Afrikaans werk. Afrikaans bou.

Wil jy saam met Solidariteit aan Afrikaans se toekoms in opleiding en die werkplek bou? Sluit hier aan!


Solidariteit het saam met die instellings van die Solidariteit Beweging ʼn Lettertoer al die pad Taalmonument toe aangepak ter viering van Afrikaans se 100ste verjaarsdag. Lees hier meer oor die Lettertoer. Kyk ook gerus hier om ʼn paar hoogtepunte en mooi oomblikke van die toer te sien!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel