Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Agoa-verlies kan hele gemeenskappe se werk uitwis
ANC-politiekery plaas meer as ʼn halfmiljoen Suid-Afrikaanse werkgeleenthede wat deur uitvoere na die Verenigde State van Amerika (VSA) ondersteun word, saam met ons land se Agoa-voordele in die spervuur.
Solidariteit waarsku dat verswakkende handelsbetrekkinge met die VSA en die dreigende verlies van dié voordele die vrugte-, mynbou-, motor-, chemiese en staalbedrywe sal knou en veral kwesbare plattelandse gemeenskappe swaar sal tref.
Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) ondersteun uitvoere na die VSA sowat 576 000 Suid-Afrikaanse werkgeleenthede. Ongeveer die helfte van dié werkers is in sektore wat voordeel trek uit gunstige uitvoervoorwaardes ingevolge die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa).
Die verlies van hierdie voordele sal ondernemings se mededingendheid verswak en bestellings, uitvoerinkomste en werksekerheid bedreig.
Suid-Afrika het in 2024 goedere ter waarde van R156,8 miljard na die VSA uitgevoer. Die landbousektor alleen het produkte ter waarde van meer as R10 miljard na dié mark uitgevoer. In talle landbougemeenskappe is boerdery vir die uitvoermark die vernaamste ekonomiese bedrywigheid, met plaaslike ondernemings wat daarvan afhanklik is. Diegevolge van van verlore uitvoergeleenthede sal dus veel verder as die plaashek strek.
Die uitwerking van tariewe is reeds in die motorbedryf sigbaar. Nadat ʼn algemene tarief verlede jaar ingestel is, is slegs 6 500 motors in 2025 na die VSA uitgevoer, teenoor 25 500 in 2024. Om ander bedrywe aan tariewe bloot te stel, sal dieselfde vernietigende uitwerking hê.
“Dit is maklik om Agoa se belangrikheid af te maak wanneer jou eie salaris nie daarvan afhanklik is nie. Maar agter hierdie uitvoere staan werkers, gesinne en gemeenskappe met min ander ekonomiese geleenthede.
“Hulle kan nie bekostig dat die regering hul toekoms met politieke hardkoppigheid op die spel plaas nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die SNI.
Solidariteit voer die afgelope vier jaar gesprekke hieroor met die Amerikaanse regering en het herhaaldelik navorsing aan verskeie forums voorgelê oor die belangrikheid van Agoa.
Solidariteit se eerste Agoa-verslag is in 2023 aan die Biden-administrasie gelewer toe Republikeine én Demokrate ernstig oor die afskaling van betrekkinge met Suid-Afrika begin praat het.
“Baie mense onderskat Agoa omdat dit ʼn relatief klein deel van ons totale uitvoere uitmaak. Dit is egter dwaas om die voordele af te maak sonder om te kyk watter bedrywe en gemeenskappe daarby baat, en wat hulle sal verloor indien dié voordele wegval,” sê Du Buisson.
“Ons eerste verslag en die opvolgverslae wys dat dit juis kwesbare plattelandse gemeenskappe is wat groot voordeel trek, veral deur die vrugtebedryf en sekere mynboubedrywighede.
“Waar daar reeds min ander werkgeleenthede is, kan die verlies van uitvoerinkomste ʼn hele gemeenskap se lewensbestaan knou,” sê hy.
Volgens Du Buisson trek die motor-, chemiese en staalbedrywe ook voordeel uit Agoa. Die voordele van Agoa help dus om kwesbare gemeenskappe se lewensbestaan én Suid-Afrika se plek in die tegnologiese waardeketting te beskerm.
“Een uit elke dertig huishoudings baat by uitvoere na die VSA. Dit is meer as ʼn halfmiljoen Suid-Afrikaanse werkgeleenthede. Vir baie van hierdie uitvoere is daar nie ʼn ander mark wat die Amerikaanse mark kan vervang nie.
“Ter wille van Suid-Afrikaners se werk moet ons nou alles in ons vermoë doen om betrekkinge met die VSA positief te hou,” sê hy.
Volgens Du Buisson maak die VSA 27% van die wêreld se verbruikersmark uit.
“Geen land kan ʼn florerende uitvoerekonomie aan die gang hou sonder goeie betrekkinge met die VSA nie. Daarom bly Solidariteit hom beywer vir handelsbande wat in die guns van Suid-Afrika en sy mense werk,” sê hy.
Volgens Solidariteit kan Suid-Afrika nie handelsvoordele wat oor twee dekades opgebou is, ter wille van ANC-politici se hoogmoed opoffer nie.
Werkers en hul gesinne sal uiteindelik die rekening betaal vir die regering se versuim om handelsbetrekkinge te herstel en vir uitsprake soos dié wat Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, die afgelope tyd maak.
As deel van sy veldtog om Agoa-voordele te behou, het Solidariteit skikkingsvoorstelle oor Suid-Afrika se rassebedeling aan die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings voorgelê.
Die voorstelle sluit onder meer die uitfasering van die rassebedeling teen 2030 en nie-rassige alternatiewe vir eienaarskapvereistes in.
Volgens Solidariteit bied dit ʼn werkbare grondslag om ʼn belangrike geskilpunt tussen die twee regerings op te los en Suid-Afrikaners se werk en uitvoergeleenthede te beskerm.