loading
Blogs
1 maand gelede
aptekers-die-goue-skakel-in-gesondheidsorg

Foto Krediet: Solidariteit

Aptekers: Die goue skakel in gesondheidsorg

Deur Nadia Coetzee

Aptekers is doeners. Hulle is mense wat dinge laat gebeur – nie net in hul beroep nie, maar ook in die gemeenskappe wat hulle bedien. As regsgeleerde wat nóú saam met aptekers werk, het ek gesien hoe belangrik hulle rol werklik is. Hul betrokkenheid by die Solidariteit Aptekersnetwerk is nie net noodsaaklik om hul eie beroep te beskerm en te bevorder nie, maar ook om gesondheidsorg in Suid-Afrika verder te ondersteun.

Apteekwese is vir my die goue draad wat alles in die mediese professie bymekaar hou. Sonder aptekers se deelname sou baie aspekte van gesondheidsorg eenvoudig nie moontlik wees nie. Dit gee my groot bevrediging om ’n klein bydrae terug te gee aan hierdie ongelooflike mense wat dikwels nie hul volle impak besef nie. Wanneer ons aptekers besoek om vir hulle dankie te sê, is hul reaksie altyd nederig: “Dit was nie nodig nie”, of “Julle moes nie”. Maar die oomblik wanneer hulle besef dat iemand hul werk waardeer, is die reaksie opreg en hartroerend.

Ek geniet dit om met lede van my netwerk te werk, want aptekers is passievol en onbaatsugtig. Aptekers is mense wat ’n verskil wil maak, wat ’n persoonlike verhouding met jou opbou, net soos jou haarkapper of slagter. Voor jy jou kom kry is daar ’n vriendskap gevorm, want hulle raak deel van jou gesin.

Selfs wanneer dinge moeilik en uitdagend raak, moet aptekers nooit vergeet watter impak hulle op die gemeenskap het nie. Aptekers speel ’n belangrike rol in die gesondheid van gemeenskappe deur gesondheidsorg meer toeganklik te maak en mense op te voed oor die veilige gebruik van medikasie, voorkomingsmaatreëls en gesonde leefstylkeuses. Dit is ’n onmeetbare bydrae wat direk tot die welstand van elke Suid-Afrikaner bydra.

Aptekers hoort hier. Hul kennis en vaardighede is onmisbaar vir die gesondheid van ons gemeenskappe, maar ook vir die land se ekonomie. Indien aptekers hierdie land sou verlaat, sal dit onherstelbare skade aan ons reeds wankelende gesondheidsorgstelsel aanrig. Suid-Afrika het hulle broodnodig – geen hospitaal of gemeenskap kan funksioneer sonder aptekers nie. Hulle is werklik die goue draad wat ons gesondheidsorg bymekaar hou.

Dit is tyd dat ons hul waarde erken en ondersteun, nie net as ’n noodsaaklike skakel in die gesondheidsorgstelsel nie, maar ook as mense wat ’n onmiskenbare verskil maak in talle aspeke van ons lewens.

Raak betrokke by jou beroepsgemeenskap, klik hier om jou gratis profiel op Solidariteit te skep of koppel jou lidmaatskap hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel