loading
Blogs
3 dae gelede
suid-afrika-is-my-land-ek-hoort-hier

Foto Krediet: Solidariteit

Suid-Afrika is my land, ek hoort hier!

Ek sidder om te dink dat my kind in ʼn land moet grootword waar die staat besluite namens hom wil neem. Gesondheidsorg is ʼn ramp, werksgeleenthede is skaars en korrupsie is die grootste sondebok in beide die privaat en openbare sektor. Misdaadsyfers is hoog, die kragkrisis is nog nie opgelos nie en regstellende aksie is steeds rasstellende aksie. Dienslewering is ʼn nul op ʼn kontrak en dan praat ons nie eers oor die omstrede Bela-wet nie. Dit wil amper voorkom asof emigrasie die enigste oplossing is vir my kind om ʼn beter toekoms te hê.

My oupa het altyd gesê die gras lyk net groener aan die ander kant omdat daar soveel meer … ek is seker jy kan die sin self voltooi. Ek gaan nie jok nie; as ʼn nuwe mamma is ek bekommerd, máár ek is ook ʼn Afrikaner en Afrikaners het ʼn geskiedenis van veerkragtigheid en oorlewing te midde van uitdagings. Ons glo nie net in sak en as nie. Ons het ook ʼn geskiedenis van selfbeskikking en onafhanklikheid, en ons sê #OnsSalSelf!

Ek sal my kind in Afrikaans grootmaak, en as die Bela-wet “nee” sê, sê ek “basta met Bela, want ek én my kind hoort hier!” Ek is hier gebore en ek het hier grootgeword. Ek het hier geleer om Afrikaans te praat en om die Here (in Afrikaans) te dien. Ek het vir myself ʼn toekoms hier begin bou en ek gee werklik nie om of dit Jan se skuld was of nie, want ek en my kind gaan nêrens heen nie!

Hier in Suid-Afrika kan my kind vry wees. Hy kan buite in die son speel, op die groen gras hardloop, insekte vir my aandra en saam met sy vriende op avonture gaan op die platteland of in die stad. Hier kan hy boomklim en in die rooigrond speel. Hierdie vryheid is kosbaar en iets wat ek nie wil opoffer vir ʼn klein erfie met sintetiese gras oorsee nie.

Hier kan my kind in sy taal leer, praat en musiek luister. Hier sal hy die waarde van sy taal ervaar en verstaan, en sy Afrikaner-identiteit daarmee bou. Hier hoef ons nie te veel oor “wokeness” te stres nie.

Boonop is daar iets besonders aan Suid-Afrika se diversiteit. Van die pragtige landskappe tot die verskeidenheid kulture en tradisies – hier is ʼn unieke saamstaan van mense in die smeltkroes. Hierdie mengelmoes van kultuur en geskiedenis bied my kind die geleentheid om ʼn breë wêreldbeskouing te ontwikkel en die diversiteit van ons land te waardeer.

Ek sien hoe mense saam om ʼn braai kuier, hoe kinders in die straat speel en hoe ons saam feesvier. Hierdie oomblikke van samesyn en gemeenskap is wat Suid-Afrika so spesiaal maak. Dit is nie net ʼn plek nie; dit is ʼn gevoel van behoort en liefde vir ons land.

Ek besef dit gaan so ʼn bietjie woes in ons land, maar ek sien die glas as halfvol, want Solidariteit beskerm my en my kind. Hulle bou en hulle bemagtig! Ek glo dat ons as Afrikaners in ons land kan floreer en ʼn toekoms vol hoop en geleenthede vir ons kinders kan bou.

Ek sal my kind in Suid-Afrika grootmaak en vir hom sê #JyHoortHier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel