loading
avatar
Blogs
1 dag gelede
amore-bekker-die-stem-wat-huise-warm-en-harte-heel-maak

Foto Krediet: Verskaf

Amore Bekker: Die stem wat huise warm en harte heel maak

Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk

Daar is radiostemme wat ʼn mens hoor, en dan is daar radiostemme wat ʼn mens bybly.

Vir dekades lank is Amore Bekker só ’n stem – een wat nie net deur luidsprekers gehoor word nie, maar wat deur die stiltes in kombuise, karre en siele breek. ’n Stem wat jou laat voel asof jy saam op ’n stoep met ’n beker koffie in die hand sit, en net vir ’n oomblik stadiger asemhaal.

Amore Bekker is ’n vrou van vele talente: radio-omroeper, gepubliseerde skrywer, motiveringspreker, TV-aanbieder en aktrise. Maar bo alles is sy ’n storieverteller – iemand wat mét mense praat; nie af na hulle nie.

Toe sy op 25 in die uitsaaiwese begin werk het, was sy onseker oor haarself en haar vermoëns. Sy het altyd van gesels gehou, maar nooit gedink dat mense werklik na haar sou luister nie. Juis daardie egtheid het haar stem gevorm: iemand wat nie probeer beïndruk nie, maar wat bloot mens is.

In 1993, by Radio Kontrei (vandag KFM), het radio vir haar soos ʼn tuiskoms begin voel. Meer Afrikaans, meer hart, meer luisteraars wat inbel – “So asof ons saam op ’n stoep sit,” sê sy. Ná drie jaar het radio soos ’n “ou jersey” gevoel. Sy het geweet: hier hoort ek.

Selfs in ’n wêreld vol algoritmes en voorafopgeneemde perfeksie glo Amore steeds vas in regstreekse radio. Die foute, die spontane oomblikke, die menslikheid – dit is waar radio leef. “Dan besef luisteraars: dit is die ware Jakob. Dis nie ’n masjien nie.”

As ’n selferkende Waterdraer bring sy humor en ’n bietjie “wacky” wysheid na alles wat sy doen. In ’n wêreld wat swaar raak, glo sy humor is nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid. “Ons wêreld is te ernstig om ernstig opgeneem te word.”

Amore se stem het Suid-Afrika deur groot oomblikke vergesel: Mandela se vrylating, sportoorwinnings, die Sokkerwêreldbeker en Covid-tye, toe mense weer by die radio vasgenael was – op soek na hoop. “Dit is ’n voorreg om deel te wees van oomblikke waar ’n nasie saamstaan.”

Wanneer daar oor nalatenskap gepraat word, hoop sy mense sal eendag net dit sê: “Sy het altyd met ’n plan by die ateljee opgedaag.” Haar raad aan jong mense in media bly eenvoudig, maar goud werd: wees nuuskierig, lees baie, wees betyds, wees voorbereid – en onthou om ook by jou kollegas in te loer.

Al het Amore vir eers die radio-ateljee gegroet, het haar stem nie verdwyn nie. Dit het net nader beweeg. Vandag raak sy mense se harte op die verhoog en in gesprekke aan waar mense weer onthou wie hulle is en hoekom hulle hier is.

Vir Amore het radio nog nooit bloot oor die mikrofoon gegaan nie – dit het nog altyd oor die mens daaragter gegaan.
En dalk is dit haar ware nalatenskap: ’n stem wat altyd opgedaag het, ’n mens wat nie bang was vir waarheid nie, en ’n vrou wat steeds sê: haal asem, praat oor dit wat saak maak – en doen dit met “guts”.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel