Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Okosa-uitklaring ʼn oorwinning vir Afrikaans, gemeenskapsradio en Maroela Media
Solidariteit en Maroela Media verwelkom die duidelikheid wat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) oor programdeling en die gebruik van inhoud deur gemeenskapsradiostasies verskaf het.
Hierdie uitklaring spruit uit optrede van Solidariteit se Kommunikasienetwerk na aanleiding van ernstige kommer wat Maroela Media en verskeie gemeenskapsradiostasies uitgespreek het oor ʼn vroeëre skrywe van Okosa aan radiostasies.
Die aanvanklike kommunikasie het die indruk geskep dat bestaande inhoudsvennootskappe moontlik onwettig sou wees, wat groot onsekerheid in die bedryf veroorsaak het.
Okosa het nou skriftelik bevestig dat die regulasies nie van toepassing is op onafhanklike inhoudskeppers soos Maroela Media en ander sentrale inhoudverskaffers wat nie self as uitsaaidienste funksioneer nie.
Volgens die uitklaring geld die beperking op inhoudsdeling slegs waar gelisensieerde gemeenskapsradiostasies programme met aanlyn radiodienste, wat self aan die publiek uitsaai, deel.
Gemeenskapsradiostasies mag steeds inhoud van onafhanklike inhoudverskaffers verkry en uitsaai, mits hulle aan die bestaande vereiste voldoen dat sodanige inhoud nie meer as 20% van hul programmering uitmaak nie.
Hierdie uitklaring van Okosa bied die nodige regsekerheid aan die sektor en ook aan Maroela Media.
Bianca Smit, koördineerder van Solidariteit se Kommunikasienetwerk, sê dit is ʼn betekenisvolle oorwinning vir Afrikaanse media, gemeenskapsradiostasies en die gemeenskappe wat daardeur bedien word.
“Ons is baie bly dat Okosa na ons bekommernisse geluister het en die nodige uitklaring gegee het. Gemeenskapsradiostasies beskik dikwels nie oor die finansiële of mensehulpbronne om al hulle inhoud self te kan produseer nie.
“Die vermoë om gehalte Afrikaanse inhoud van gevestigde inhoudskeppers te bekom, is daarom van onskatbare waarde vir hierdie stasies en vir hulle luisteraars,” sê Smit.
Volgens haar beklemtoon hierdie uitkoms ook die waarde van organisasies wat saamstaan om onsekerhede met voorgeskrewe regulasies uit te stryk. Smit verseker Solidariteit sal steeds gereed staan om enige gemeenskapsradiostasie by te staan indien hierdie regulasies in die toekoms verkeerd geïnterpreteer of toegepas sou word.
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê die uitklaring bring groot verligting vir Afrikaanse inhoudskeppers.
“Vir Maroela Media is dit belangrik dat daar nou ondubbelsinnig bevestig is hoe digitale inhoudskeppers soos ons steeds inhoud aan gemeenskapsradiostasies kan verskaf.
“Dit verseker dat Afrikaanse nuus, aktuele sake en ander programme steeds wyd versprei kan word na gemeenskappe wat andersins nie noodwendig toegang tot hierdie inhoud sou hê nie.
“Hierdie is nie net goeie nuus vir Maroela Media nie, maar vir die hele Afrikaanse media-ekosisteem en die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is,” sê Lombaard.
Solidariteit en Maroela Media beskou Okosa se uitklaring as ʼn belangrike stap om regulatoriese sekerheid te herstel en die voortgesette groei van onafhanklike Afrikaanse media, inhoudskeppers en gemeenskapsuitsaaiers te ondersteun.