Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit seëvier namens regslui in saak oor Afrikaanse prokureurseksamens
Solidariteit verwelkom die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof wat die Regspraktisynsraad (RPR) verplig om verdere dokumentasie en inligting bekend te maak oor die besluitnemingsproses wat gelei het tot die afskaffing van Afrikaans as taal van die prokureurstoelatingseksamen.
Hierdie uitspraak bevestig die standpunt wat Solidariteit se Regsnetwerk deurgaans gehandhaaf het: dat die RPR verantwoordbaar is teenoor sy lede wanneer hy besluite neem wat die regsberoep raak.
Volgens Émil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, is hierdie gunstige uitspraak veel meer as bloot ʼn oorwinning in ʼn saak oor toegang tot inligting.
“Die uitspraak bevestig ʼn kernbeginsel van goeie bestuur wat sê dat ʼn regulerende liggaam wat deur sy lede gefinansier word en namens hulle optree, rekenskap moet kan gee van hoe besluite geneem word, wie daarvoor verantwoordelik is en op grond waarvan daardie besluite geneem is,” sê Glas.
Die hof het beslis dat die RPR die relevante agendas, notules, komiteedokumente, bywoningslyste, asook besonderhede oor die deelname en stemme van raadslede rakende die besluit moet bekend maak. Die uitspraak beklemtoon verder dat die RPR nie sy eie besluitnemers agter argumente oor privaatheid kan wegsteek wanneer hulle amptelike funksies verrig nie.
Volgens Glas behoort hierdie uitspraak dus ʼn wekroep vir die RPR te wees.
“Die RPR bestaan om as reguleerder van die regsberoep op te tree. Dit is nie ʼn geslote instelling wat sy besluite sonder aanspreeklikheid kan neem nie. Gegewe die aanvalle op die regsprofessie die afgelope jaar, is dit my siening dat die Solidariteit Regsnetwerk die fakkel moet opneem om die RPR verantwoordbaar te hou wanneer dit deur hofsake genoodsaak word.”
“Regspraktisyns het daarom die reg om te weet hoe besluite wat hul beroep raak, geneem word,” sê hy.
Glas sê verder die hof bevestig in wese dat deursigtigheid en aanspreeklikheid nie deur die RPR as bloot opsionele beginsels beskou kan word nie.
“Wanneer besluite geneem word wat die toekoms van die regsberoep raak, moet daar ʼn duidelike besluitnemingsproses wees wat aan die beroep verduidelik kan word. Hierdie uitspraak beklemtoon dat die RPR verantwoordbaar bly teenoor die breër regsprofessie en in ooreenstemming met sy mandaat moet optree.
“Ons hoop die RPR sal hierdie uitspraak aangryp om ʼn nuwe kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid te vestig. Die regsberoep verdien ʼn reguleerder wat in die belang van die beroep optree en die ontwikkeling daarvan bevorder.
“Ek is verder tevrede dat ons reg om namens ons lede op te tree, wat gedurig bevraagteken word, nou ook deur die howe erken word. Solidariteit se Regsnetwerk is gedurig aangeval oor ons reg om namens lede op te tree, maar hierdie uitspraak bevestig dat ons wel geregtig is om vir ons lede in die regsprofessie op te tree,” sluit Glas af.
Solidariteit se Regsnetwerk doen ʼn beroep op regslui om deel van dié netwerk te word, sodat ons saam deursigtigheid en verantwoordbaarheid kan bevorder en die regsprofessie verder kan uitbou.
Sien die uitspraak hier aangeheg.