Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Wanneer gaan brandstof goedkoper raak?
Deur Theuns du Buisson
My antwoord is Augustus of September.
Maar hoe kom ek tot daardie gevolgtrekking?
Die prys van Brent-ruolie hou bykans konstant aan om te daal. Van waar dit nie te lank terug nie nog bo $110 per vat was, is dit tans net bo $70. Dit is amper terug op die “normale” vlakke wat ons vóór die oorlog in Iran gesien het. Boonop is die rand nou effens sterker as voor die oorlog. Brandstofpryse moet dus onafwendbaar daal, maar wanneer en met hoeveel bly die groot vrae.
Die tendens blyk te wees dat oliepryse sal aanhou om te daal, tot dit tussen $60 en $65 per vat sal stabiliseer. Dit kan selfs laer wees as Iran ook begin om olie op die ope mark te lewer en onenigheid in die Opul-alliansie voortduur.
Ongelukkig is die meeste oliepryse gebaseer op olie wat in die toekoms gelewer sal word, so dit gaan nie oornag reggestel word nie. Verder was daar in die afgelope maand heelwat dae waar die oorverhaling op brandstofpryse nie so groot was as wat ʼn mens sou verwag nie, wat prysverligting ook vertraag.
In Julie is een van die belangrikste faktore wat ingereken moet word die beëindiging van die tydelike verlaging in die brandstofheffing. Al sou daar dus ʼn oorverhaling van meer as R3 op petrol gewees het, sou die werklike prysverligting slegs ongeveer R1,60 gewees het. Vir diesel sou die werklike prysverligting ook slegs ongeveer R3,20 gewees het.
Omdat Suid-Afrika die meeste van ons brandstof in geraffineerde vorm invoer, is daar ʼn verdere vertraging tussen ʼn daling in die olieprys en ʼn verlaging in brandstofpryse. Die verwagting is dus dat daar nog ʼn groot daling in Augustus sal wees, maar dat pryse eers teen September na “normaal” sal terugkeer.
Alle voorspellings kan natuurlik oornag ongeldig word as Iran byvoorbeeld besluit om weer die Hormoes-seestraat te sluit of as konflik weer uitbreek.
Theuns du Buisson is ʼn ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.