Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-samancor-wys-die-pad-nou-moet-ander-smelters-ook-dringend-sekerheid-kry

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit: Samancor Wys Die Pad – Nou Moet Ander Smelters Ook Dringend Sekerheid Kry

Solidariteit sê Samancor Chrome se besluit om sy artikel 189A-afleggingsproses te staak en sy smelters in fases te heropen, bewys dat mededingende elektrisiteitstariewe die verskil tussen werkskepping en werkverlies kan beteken.

Die onderneming se besluit volg nadat hy bevestiging ontvang het van ʼn verbeterde Eskom-kragtarief en ʼn vyfjaarvooruitsig wat die hervatting van bedrywighede moontlik maak. Glencore-Merafe het gedurende Mei ook sy afleggingsplanne laat vaar nadat ʼn verbeterde kragtarief beding is.

Volgens Cornelius van Leeuwen, sektorkoördineerder van Solidariteit, behoort dieselfde dringendheid nou toegepas te word op die oorblywende ondernemings wat steeds in onsekerheid verkeer.

Solidariteit het terselfdertyd sy dank uitgespreek teenoor rolspelers by Samancor, waaronder die uitvoerende hoof, Desmond McManus en sy span, asook Eskom en die regering, wat hierdie moeilike gesprekke in ʼn oplossing kon omskep.

“Samancor se aankondiging bewys dat oplossings moontlik is wanneer alle rolspelers saamwerk. Dit is uitstekende nuus vir werknemers en hul gesinne, maar dit kan nie die einde van die proses wees nie. Daar is steeds ondernemings wat op finale sekerheid wag voordat hulle hul eie afleggingsprosesse kan beëindig.”

Van Leeuwen sê Solidariteit se grootste bekommernis is dat elke dag se vertraging die druk op werknemers, hul gesinne en die gemeenskappe wat van hierdie nywerhede afhanklik is, verhoog.

“Ons aandag is nou veral op ondernemings soos Ferroglobe en Transalloys gevestig. Ons hoop dat dieselfde pragmatiese benadering wat die werkgeleenthede by Samancor en Glencore-Merafe beskerm het, ook by Ferroglobe, Transalloys en ander smelters gevolg sal word.”

Hy voeg by dat Suid-Afrika se ferrochroombedryf steeds onder geweldige druk verkeer ná jare van stygende elektrisiteitskoste, wat reeds tot die stillegging van talle smelters gelei het. Die onlangse verwikkelinge toon egter dat mededingende tariewe ʼn realistiese pad na herstel bied.

“Elke smelter wat aan die gang bly, beskerm nie net honderde of duisende direkte poste nie. Dit beskerm ook kontrakteurs, plaaslike ondernemings, munisipale ekonomieë en Suid-Afrika se vermoë om waarde tot sy minerale hulpbronne toe te voeg.”

Solidariteit doen ʼn beroep op Eskom, die regering en alle betrokke partye om die uitstaande onderhandelinge met dieselfde spoed af te handel sodat verdere afleggings voorkom kan word.

“Samancor en Glencore-Merafe het gewys wat moontlik is. Nou moet ons sorg dat dieselfde suksesverhaal by Ferroglobe, Transalloys en die ander smelters herhaal word,” sluit Van Leeuwen af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel