Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Lamola se uitlatings juis teen Suid-Afrika se belang
Solidariteit waarsku dat minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, se jongste uitlatings oor Suid-Afrika se verhouding met Iran nie in die land se nasionale belang is nie, maar Suid-Afrika se ekonomiese belange, internasionale handelsvooruitsigte en Agoa verder benadeel.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, is Lamola verkeerd wanneer hy beweer dat sy benadering Suid-Afrika se belange eerste stel.
“Minister Lamola sê hy tree in Suid-Afrika se belang op, maar ‘n verdere verdieping van Suid-Afrika se verhouding met Iran is juis téén die belang van Suid-Afrika.
“Die vraag is nie of Washington vir Suid-Afrika voorskryf of behoort voor te skryf nie. Die werklike vraag is of ‘n toenemend hegte verhouding met Iran die ekonomiese belange van Suid-Afrikaners dien. En die antwoord daarop is nee,” sê Kleynhans.
Volgens hom stem Solidariteit saam dat Suid-Afrika sy eie onafhanklike buitelandse beleid moet bepaal. Hy beklemtoon egter dat só ‘n beleid uiteindelik gewone Suid-Afrikaners moet bevoordeel en nie ideologiese doelwitte moet nastreef wat ekonomiese skade veroorsaak nie.
“Hierdie optrede vind plaas op ‘n uiters sensitiewe tydstip. Daar word tans onderhandel oor die toekoms van Agoa, handelstariewe en ‘n moontlike nuwe handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Verenigde State.
“Enige verdere verswakking van die verhouding tussen die twee lande verminder Suid-Afrika se kanse op ‘n gunstige handelsuitkoms.”
Kleynhans sê die gevolge van hierdie dwase uitsprake sal uiteindelik nie politici raak nie, maar wel gewone Suid-Afrikaners.
“Wanneer uitvoere afneem, beleggings teruggehou word en handelsgeleenthede verlore gaan, is dit werkers, vervaardigers, boere en hul gesinne wat die prys betaal. Duisende werksgeleenthede is afhanklik van sterk handelsbande met die VSA,” sê hy.
Solidariteit doen daarom ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om sy buitelandse beleid op die land se ekonomiese en strategiese belange te grond en nie deur onnodige geopolitieke standpuntinname Suid-Afrika se verhouding met een van sy belangrikste handelsvennote verder te beskadig nie.