Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
14 uur gelede
solidariteit-waarsku-teen-okosa-regulasies-watg-emeenskapsradio-en-inhoudskeppers-bedreig

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit waarsku teen Okosa-regulasies wat gemeenskapsradio en inhoudskeppers bedreig

Solidariteit eis in ʼn skriftelike beswaar antwoorde van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) oor die manier waarop regulasies oor program- en inhouddeling vertolk word en die gevolge daarvan vir gemeenskapsradiostasies, onafhanklike inhoudskeppers en taaldiversiteit in Suid-Afrika. Sien skrywes hier en hier.

Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk versoek ook met hierdie beswaar dat Okosa implementering van die betrokke riglyn opskort totdat groter regsduidelikheid daaroor bestaan.

Volgens Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, skep die huidige interpretasie onnodige onsekerheid vir gemeenskapsradiostasies wat daagliks op inhoudsvennootskappe staatmaak om hul gemeenskappe met inhoud te bedien.

“Gemeenskapsradiostasies is nie bloot uitsaaiplatforms nie. Hulle is dikwels die stem van hul plaaslike gemeenskappe.

“Wanneer regulatoriese interpretasies die vloei van onafhanklike inhoud bedreig, gaan die regulasies uiteindelik die luisteraar, die gemeenskap en die voortbestaan van kleiner radiostasies raak,” sê Visser.

Die beswaar volg nadat Okosa ʼn skrywe aan gemeenskapsuitsaailisensiehouers oor programdeling en aanlyndienste gerig het waarin die regulasies se beperkinge op die deel van inhoud, wat vanaf onafhanklike verskaffers kom, uitgelig word.

Die inhoud word weliswaar nie uitdruklik deur die regulasies verbied nie, maar beperkinge word geplaas op uitsaailisensiehouers se gebruik van inhoudskeppers wat nie self uitsaaiers is nie.

Visser sê egter daar bestaan ʼn fundamentele verskil tussen die vervaardiging van inhoud en die lewering van ʼn uitsaaidiens.

“Indien daardie onderskeid vervaag word, kan dit verreikende gevolge hê vir joernaliste, podsenders, kultuurorganisasies, opvoedkundige instellings en talle ander onafhanklike inhoudskeppers wat waardevolle inhoud aan gemeenskapsradiostasies verskaf,” sê hy.

Solidariteit meen dat die interpretasie waarop Okosa tans steun ironies genoeg die doelwitte van die wetgewing kan ondermyn deur die verskeidenheid inhoud wat vir gemeenskappe beskikbaar is, te verminder eerder as uit te brei.

Die organisasie waarsku dat Afrikaanse luisteraars besonder hard getref kan word, aangesien talle gemeenskapsradiostasies op onafhanklik vervaardigde Afrikaanse nuus-, kultuur- en opvoedkundige inhoud staatmaak.

“Wanneer toegang tot onafhanklike inhoud beperk word, word dit nie net ʼn regulatoriese kwessie nie.

“Dit raak taalregte, kultuurbehoud, mediadiversiteit en die vermoë van gemeenskappe om toegang tot relevante plaaslike inhoud te hê wat sulke inhoudskeppers bied,” sê Visser.

Solidariteit het reeds skriftelik sy ondersteuning aan gemeenskapsradiostasies bevestig en moedig enige stasie wat met afdwingingsaksies of verdere kennisgewings gekonfronteer word aan om die organisasie onmiddellik te kontak vir regs- en professionele ondersteuning.

Dit is nodig sodat radiostasies nie alleen die gevolge van regulatoriese onsekerheid hoef te dra nie. Solidariteit sal dus voortgaan om die belange van radiostasies, inhoudskeppers en taalgemeenskappe te beskerm en sal nie huiwer om op te tree waar beleid of interpretasies die volhoubaarheid van gemeenskapsuitsaaiers bedreig nie.

Visser sê daar is ruimte vir konstruktiewe gesprekke met Okosa, maar glo dit moet op ʼn grondslag van regsekerheid, taaldiversiteit en die beskerming van gemeenskapsmedia geskied.

“Die voortbestaan van gemeenskapsradiostasies en die stemme van die gemeenskappe wat hulle dien, is eenvoudig te belangrik om deur regulatoriese onsekerheid in gedrang gebring te word,” sluit Visser af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel