loading
avatar
Artikels
8 uur gelede
solidariteit-klagte-oor-rassewette-lei-tot-vn-optrede

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit-klagte oor rassewette lei tot VN-optrede

Deur Leré Nel

ʼn Klagte oor rassewette wat Solidariteit by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gelê het, het die Verenigde Nasies genoodsaak om op te tree.

Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) is ʼn liggaam wat deel vorm van die VN en toesig hou oor arbeidsregte en arbeidsverhoudinge wêreldwyd, en het Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering as ʼn eerste stap gevra om deel te neem aan ’n konsiliasieproses.

Dit volg nadat Solidariteit op 15 Mei 2026 ’n formele klagte by die VN in Genève, Switserland, ingedien het.

Konsiliasie is ’n proses waarin ’n onafhanklike liggaam probeer om twee partye te help om ’n geskil op te los voordat verdere stappe geneem word.

Indien die konsiliasie tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering onsuksesvol is, kan die saak later vanjaar verder gedurende die IAO se beheerliggaamsitting oorweeg word.

Volgens Solidariteit is die uitnodiging tot konsiliasie ’n belangrike ontwikkeling omdat dit beteken dat die VN die klagte ernstig genoeg ag om die proses formeel voort te sit.

“Dit is ’n groot deurbraak dat dié internasionale liggaam begin het met ’n proses ná die Solidariteit-klagte. Die Suid-Afrikaanse regering is gebonde aan internasionale konvensies asook die vorige ooreenkoms wat bereik is onder toesig van die IAO. Ons gaan nie toelaat dat die regering wegkom met die nie-nakoming van konvensies en ooreenkomste nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Waaroor gaan Solidariteit se klagte?

Solidariteit se klagte fokus op sekere aspekte van Suid-Afrika se rassewette in die werkplek, veral die feit dat hierdie maatreëls volgens die organisasie permanent van aard geword het terwyl dit ingevolge ʼn vorige ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering tydelik moes wees.

Rassewette verryk ook hoofsaaklik ʼn klein groep elites en verarm nog steeds die armes. Met ander woorde – die land se ekonomie in sy geheel ly daaronder.

Die klagte lê klem daarop dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn vorige ooreenkoms met Solidariteit onder toesig van die IAO verbreek het.

Dié ooreenkoms het duidelik gestipuleer dat rassewette tydelik moet wees, dat niemand afgedank mag word op grond van ras nie, dat ras nie die enigste kriteria mag wees nie, én dat vaardighede en die unieke omstandighede van die maatskappy in ag geneem moet word.

Hierdie ooreenkoms, wat in 2023 bereik is, is ʼn bevel van die hof gemaak en moes in die Staatskoerant gepubliseer word. Die regering het dit egter nie gedoen nie en dus voer Solidariteit aan dat hulle die ooreenkoms verbreek het én hulself skuldig gemaak het aan minagting van die hof.

Wat gebeur volgende?

Die volgende stap is die konsiliasieproses tussen Solidariteit en die regering onder toesig van die IAO.

Indien die partye nie ’n oplossing kan bereik nie, sal die ontvanklikheid van Solidariteit se klagte in November vanjaar tydens ’n sitting van die IAO se beheerliggaam aangehoor word. Indien die klagte ontvanklik verklaar word, kan dit uiteindelik tot ’n formele ondersoek na die Suid-Afrikaanse regering lei.

Terwyl die internasionale proses voortgaan, het Solidariteit ook plaaslik met regstappe begin. Die organisasie het reeds ’n saak vir minagting van die hof teen die Suid-Afrikaanse regering ingestel oor die verbreking van die 2023-ooreenkoms.

Uitspraak in hierdie saak word ook gou verwag.

Die komende maande kan dus bepalend wees in die stryd vir die afskaffing van Suid-Afrika se rassewette, sowel as die regering se nakoming van internasionale arbeidsverpligtinge en bestaande hofbevele.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel