Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
VN se IAO nooi Solidariteit en regering vir konsiliasie na klagte oor SA se rassewette
Klik hier vir Solidariteit se IAO-klagte.
Die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) het Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering genooi vir konsiliasie. Dit volg die indiening van Solidariteit se klagte teen sekere aspekte van die regering se rassewette op 15 Mei 2026 in Genève, Switserland.
Indien die konsiliasie onsuksesvol is sal die Solidariteit-klagte se ontvanklikheid in November vanjaar, tydens die beheerliggaamsitting van die IAO aangehoor word. ʼn Ondersoek teen die Suid-Afrikaanse regering kan daarna volg.
Die Solidariteit-klagte fokus spesifiek op die permanente aard en elite karakter van rassewette, maar veral op die feit dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn vorige ooreenkoms tussen hulleself en Solidariteit, onder toesig van die IAO verbreek het.
“Dit is ʼn groot deurbraak dat dié internasionale liggaam begin het met ʼn proses ná die Solidariteit-klagte. Die Suid-Afrikaanse regering is gebonde aan internasionale konvensies asook die vorige ooreenkoms wat bereik is onder toesig van die IAO. Ons gaan nie dat die regering wegkom met die nie-nakoming van konvensies en ooreenkomste nie,” het dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.
Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering het in 2023 ʼn ooreenkoms oor rassewette in die werkplek bereik na ʼn proses deur die IAO. Dié ooreenkoms het onder andere bepaal dat rassewette tydelik moet wees, dat niemand afgedank mag word op grond van ras nie, én dat ras nie die enigste kriteria vir aanstellings of bevorderings mag wees nie, maar dat vaardighede en die unieke omstandighede van die maatskappy in ag geneem moet word.
Die ooreenkoms is ʼn bevel van die hof gemaak en moes in die Staatskoerant gepubliseer word. Die regering het dit egter nie gedoen nie, en só die ooreenkoms verbreek en die hofbevel geminag.
Intussen het Solidariteit ook plaaslik begin met ʼn saak teen die Suid-Afrikaanse regering vir minagting van die hof.