Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
18 uur gelede
kragtarief-ooreenkoms-nodige-opwekker-vir-smeltbedryf

Foto Krediet: Pexels

Kragtarief-ooreenkoms nodige opwekker vir smeltbedryf

Solidariteit verwelkom die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring van die spesiale elektrisiteitstarief vir Glencore-Merafe en Samancor, en glo hierdie deurbraak kan verligting bring vir duisende werknemers wie se werk by smelteraanlegte in gedrang was.

Solidariteit beskryf die besluit as ʼn noodsaaklike opwekker vir ʼn bedryf wat op die rand van ernstige afskaal- en sluitingsbesluite gestaan het.

Cornelius van Leeuwen, sektorkoördineerder van Solidariteit, spreek sy waardering uit teenoor Nersa, Eskom, Glencore-Merafe en Samancor, asook die onderskeie uitvoerende hoofde en spanne wat die afgelope maande saamgewerk het om ʼn werkbare oplossing vir dié krisis te vind.

Volgens die ooreenkoms sal hierdie ferrochroomsmelters met ʼn kragtarief van 62c per kWh tegemoet gekom word.

Vir ʼn sektor wat onder toenemende druk verkeer het weens stygende elektrisiteitskoste en intense internasionale mededinging, was hierdie verligting noodsaaklik.

Volgens Van Leeuwen is die besluit nie net belangrik vir die betrokke maatskappye nie, maar ook vir die werknemers en hulle gesinne en die gemeenskappe waarbinne hulle woon en werk wat van die smelterbedryf afhanklik is.

“Hierdie besluit gee nuwe hoop aan ʼn bedryf wat die afgelope maande onder geweldige druk verkeer het. Dit is nie bloot ʼn oorwinning vir twee ondernemings nie, maar vir hele gemeenskappe wat op die voortbestaan van die bedryf staatmaak.

“Solidariteit het van die begin af beklemtoon hoe die gevolge van moontlike sluitings veel verder as die hekke van die smelters sou strek.

“Wanneer ʼn smelter sluit, verloor nie net die werknemers hul werk nie. Plaaslike ondernemings, diensverskaffers en hele dorpe voel die impak. Daarom is hierdie besluit van groot belang vir die ekonomiese welstand van talle gemeenskappe in Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en ander dele van die land,” sê Van Leeuwen.

Solidariteit neem verder kennis daarvan dat die maatskappye nog hul interne prosesse moet finaliseer voordat volle sekerheid oor die langtermyngevolge van die besluit verkry kan word.

Terugvoer oor die artikel 189-prosesse van Glencore-Merafe en Samancor word binnekort verwag.

“Ons verwelkom die besluit en die positiewe momentum wat die ooreenkoms skep. Die bedryf het dit nodig. Ons hoop dat hierdie ontwikkeling sal lei tot groter werksekerheid vir werknemers en meer stabiliteit vir die sektor as geheel,” sê Van Leeuwen.

Alhoewel Solidariteit glo dat die spesiale tarief ʼn belangrike stap vorentoe is, is dit steeds van kritieke belang dat Suid-Afrika die groter uitdaging van bekostigbare en betroubare energie moet aanspreek.

“Die tarief-ooreenkoms bied beslis ʼn kans om asem te skep, maar die langtermynantwoord bly ʼn energiesektor wat Suid-Afrikaanse nywerhede in staat stel om internasionaal mee te ding en een wat plaaslik waarde toevoeg en werkgeleenthede skep,” sê Van Leeuwen.

Solidariteit glo wel dat die besluit ʼn voorbeeld is van hoe samewerking tussen rolspelers oplossings kan bied wanneer die voortbestaan van bedrywe en werkgeleenthede op die spel is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel