loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
verwerp-seb-wat-eens-trotse-mynbousektor-op-sy-kniee-dwing

Foto Krediet: OkayDeer

‘Verwerp SEB wat eens trotse mynbousektor op sy knieë dwing’

Pieter Jordaan

Die Suid-Afrikaanse mynbousektor was eens die goue gans waarop die land se ekonomie gebou is.

Tog is dié sektor op sy knieë gedwing deur ʼn verstikkende kombinasie van swart ekonomiese bemagtiging (SEB), staatsbeheer en uitgerekte regulatoriese inmenging.

Dit vorm deel van die waarskuwing soos uiteengesit in die vrystelling van ʼn nuwe verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) getiteld: Mining Mischief: How transformationism killed the golden goose.

Die verslag is saamgestel deur Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI.

Volgens die verslag beleef mynbou wêreldwyd tans buitengewoon gunstige toestande. Pryse van kommoditeite soos goud, steenkool en platinum het die afgelope paar jaar skerp gestyg. Onder normale omstandighede moes Suid-Afrika se mynbousektor juis nou floreer.

In plaas daarvan gebeur die teenoorgestelde, en die gevolge is skrikwekkend.

Du Buisson sê Suid-Afrika benut eenvoudig nie sy natuurlike voordele nie.

“Wanneer wêreldpryse styg, behoort Suid-Afrika se mynbedryf te blom. In plaas daarvan stagneer produksie en krimp die sektor net verder en verder. Dit is nie ʼn geologiese probleem nie, maar uit en uit ʼn beleidsprobleem,” sê hy.

Volgens die verslag was mynbouproduksie in 2025 reeds 6,4% laer as in 2019, terwyl produksie vanjaar gemiddeld reeds 12,5% laer as die 2019-vlak is.

Die sektor se aandeel in die ekonomie het oor dekades dramaties gekrimp. Waar mynbou in 1980 ongeveer 21% van die ekonomie verteenwoordig het, is dié aandeel vandag slegs ʼn fraksie daarvan. Ook indiensneming het aansienlik afgeneem.

Dít onderstreep die oneerlikheid van president Cyril Ramaphosa se beskuldigings teenoor kritici van SEB en sy bewering dat die mynboubedryf as ʼn voorbeeld dien van die waarde van SEB-beleid vir die bemagtiging van Suid-Afrika se swart bevolking.

Dit is eenvoudig onwaar.

Du Buisson sê die probleem lê nie net by swak ekonomiese toestande nie, maar ook by die toenemende las van transformasievereistes en regulatoriese druk.

“Eienaarskapvereistes, lisensievereistes, SEB-teikens en staatsbeheer het mettertyd ʼn stelsel geskep waarin dit moeiliker raak om nuwe myne oop te maak en bestaande bedrywighede uit te brei,” sê hy.

Volgens die verslag het transformasie ook nie juis die breër bevolking bevoordeel nie. ʼn Verslag deur die Kamer van Mynwese het reeds in 2015 bevind dat slegs 46 individue ongeveer 60% van die totale SEB-waarde in Suid-Afrikaanse mynbou ontvang het.

“Dis juis die ironie,” sê Du Buisson.

“Hierdie stelsel word aan Suid-Afrikaners as ekonomiese bemagtiging verkoop, maar lei dikwels tot ekonomiese konsentrasie vir ʼn elite-groepie. Die voordele vloei na hierdie groepie en hul vriende, terwyl gewone werkers, gemeenskappe en die ekonomie die prys betaal.”

Hy meen die sektor behoort nie langer stil te bly oor beleide wat die bedryf toenemend verswak nie.

Hierdie onthullings wys hoe mynbou nie nog meer van dieselfde beleide nodig het nie, maar eerder minder daarvan.

“Mynbou behoort hierdie mislukkende model openlik te verwerp. Jy kan nie die sektor jaar ná jaar met duurder regulatoriesevereistes belas en dan verbaas wees wanneer belegging opdroog nie,” sê Du Buisson.

Volgens Solidariteit wys die verslag op ʼn ongemaklike waarheid: Suid-Afrika sit op enorme minerale rykdom, maar word deur beleid verhoed om daardie potensiaal te ontsluit.

Die land het geen tekort aan minerale nie, maar het wel ʼn tekort aan beleid wat groei, uitbreiding en belegging moontlik maak.

Solidariteit waarsku dat die land nie langer kan bekostig om ideologiese eksperimente bó ekonomiese werklikhede te plaas nie.

Die vraag is nie of mynbou belangrik is nie.

Die vraag is hoeveel van hierdie eens trotse sektor gaan oorbly as daar op die huidige koers volhard word.


Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel