loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-pak-rasbedeling-nou-van-alle-kante-af

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit pak rasbedeling nou van alle kante af

Pieter Jordaan

Solidariteit sê sy stryd teen Suid-Afrika se rasbedeling het nou ʼn nuwe fase betree waarin die organisasie rasgedrewe beleid en wetgewing gelyktydig plaaslik én internasionaal, in howe én op beleidsvlak, van alle kante af pak.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die geveg teen raswette lankal nie meer beperk tot ʼn enkele hofsaak of een stuk wetgewing nie, maar vorm dit deel van ʼn omvattende strategie om Suid-Afrika teen die uitwerking van ʼn groeiende rasregime te beskerm.

“Ons veg nou gelyktydig op verskeie fronte. Ons het die regering by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) aangekla oor die verbreking van ʼn ooreenkoms oor rasbeleide in die werkplek. Ons het ʼn minagtingsaak teen die minister van indiensneming en arbeid aanhangig gemaak. Ons beveg voorkeurverkryging in die hoogste hof in die land en ons staan die sogenaamde R100 miljard-Transformasiefonds teen. Ons pak hierdie rasbedeling nou van alle kante af,” sê Hermann.

Volgens Hermann is daar ʼn al duideliker patroon wat wys hoe Suid-Afrika se raswetgewing nie afgeskaal word nie, maar toenemend uitgebrei word na al meer dele van mense se lewens.

Wat begin het as sogenaamde tydelike regstellende maatreëls, ontwikkel nou al hoe meer in ʼn permanente stelsel van rasseklassifikasie wat minderhede in Suid-Afrika verdruk.

Hierdie beleide is oral.

Solidariteit het onlangs ʼn formele klagte by die IAO in Genève ingedien nadat die regering versuim het om bepalings van ʼn skikkingsooreenkoms oor werkplekrasbeleide te implementeer. Dit is ʼn ooreenkoms wat later ook ʼn bevel van die hof gemaak is.

Die organisasie voer ook aan dat die regering se jongste regulasies oor indiensneming regstreeks met die ooreenkoms se bepalings bots dat regstellende aksie tydelik moet wees, dat vaardighede in ag geneem moet word en dat niemand bloot weens ras benadeel mag word nie.

Hermann sê die minagtingsaak teen minister Nomakhosazana Meth, waarin uitspraak binnekort verwag kan word, vorm ʼn belangrike toets vir die oppergesag van die reg.

Hy voer aan dat wanneer ʼn regering internasionale ooreenkomste minag, hofbevele ignoreer en bloot voortgaan asof reëls nie vir hom geld nie, die saak veel groter as net ʼn arbeidsgeskil raak.

Volgens Hermann strek Solidariteit se teenkanting egter veel verder as net werkplekrasbeleide.

“Voorkeurverkryging het reeds enorme skade aan staatsinstellings en die staat se vermoë, aan infrastruktuur en veral aan ekonomiese groei aangerig. Nou word nóg strukture en nóg fondse geskep om dieselfde mislukkende ideologie verder uit te brei,” sê hy.

Volgens Solidariteit toon die voorgestelde R100 miljard-Transformasiefonds boonop al die waarskuwingstekens van nóg ʼn groot sentraliseringsprojek met miljarde rande se belastinggeld op die spel.

“Ons sien al die bekende rooi ligte van beperkte deursigtigheid, groot bedrae geld, politieke beheer en ras as vertrekpunt. Suid-Afrikaners het hierdie rolprent al voorheen gesien,” verduidelik hy.

Hierdie aanslae op verskeie fronte vorm alles deel van Solidariteit se groter veldtog vir ʼn rasvrye Suid-Afrika.

Dit is ʼn stryd wat Solidariteit enduit gaan voer – plaaslik, internasionaal, in die howe en oral waar dit nodig is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel