Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Rasvry teen 2030 (maar net as ons die pad nou saam aandurf)
Pieter Jordaan
Daar kom oomblikke in ʼn volk of gemeenskap se geskiedenis waarna mense later terugkyk en vra: Wanneer het die koers begin draai? Wanneer het gewone mense besluit: Genoeg is genoeg. Tot hier toe en nie verder nie.
Ons leef heel moontlik juis in só ʼn tyd.
Vir baie Suid-Afrikaners voel die huidige bedeling soos ʼn enorme staatsmasjien met ʼn byna onkeerbare momentum. Elke jaar bring nóg ʼn beleidsdokument, nóg sektorkodes, nóg ʼn rasvereiste in die naam van “transformasie” en ANC-ideologie.
Dit voel dikwels asof daar altyd nog ʼn vormpie is waarop iemand jou eers in ʼn rasblokkie moet plaas voordat jy as mens raakgesien word. Suid-Afrika raak soms ʼn plek waar kleurkodes ingevul moet word voordat jy volgens wet raakgesien mág word.
Oor tyd heen gebeur daar dan iets gevaarliks: Mense begin daaraan gewoond raak.
Dit is maar deel van ons tyd en miskien moet ons maar leer om daarmee saam te leef.
Miskien glo mense daar is niks wat daaraan gedoen kan word nie. Of miskien dink sommige dat die enigste uitweg emigrasie is – ʼn poging om van voortdurende verwerping te ontsnap.
Maar die geskiedenis werk nie altyd so nie. Soms verg dit maar net ʼn groep mense, of selfs net ʼn individu wat “nee” sê.
Geen groot verandering is egter ooit te weeg gebring omdat mense hul skouers opgehaal en gesê het: “Wel, laat die magtiges dan maar maak soos hulle wil” nie.
Dis juis waarom die idee van ʼn padkaart na ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030 hoop gee.
Die verslag, wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) uitgereik is, poog om praktiese veranderinge uit te wys wat Suid-Afrika realisties nader aan ʼn rasvrye bedeling kan bring – ʼn bedeling waarin diskriminerende wetgewing plek maak vir werklike opheffing en groei.
Hierdie is geen aangeplakte voorstel wat soos ʼn towerstaf al die foutlyne in ons samelewing reg kan toor nie. Dit is ook geen naïewe projek nie en maak juis praktiese en meetbare voorstelle waarmee Suid-Afrika stelselmatig in die rigting van rasvryheid kan beweeg.
Inteendeel, die plan is groot, moeilik en gaan enorme steun verg. Hofsake, navorsing, gemeenskapsbou, internasionale druk en volgehoue deelname. Duisende mense wat bereid is om hul skouers in te sit.
Want groot oogmerke vra groot opoffering. En dit bring ons by koste.
Daaroor moet ons eerlik wees. Die waarheid is dat die koste wat Suid-Afrika tans dra, reeds yslik is. Dit is dalk nie die soort koste waaraan jy nou dink nie.
Ons praat nie hier van ʼn klein administratiewe irritasie op ʼn aansoekvorm nie. Volgens die verslag beloop die koste van Suid-Afrika se huidige rassebedeling reeds honderde miljarde rand per jaar. Dit is nie net syfers op papier nie; dit is geld wat andersins in belegging, uitbreiding, entrepreneurskap en werkskepping kon beland het.
Ons betaal hierdie koste in jong mense wat moed verloor, in mense wat emigreer, en in ondernemings wat minder belê, en in algemene spanning, verdeeldheid en wantroue wat rassewette onder mense in ons land veroorsaak.
Ons sien dit in nog ʼn pa wat sy werk weens rassevereistes verloor. Of in ʼn student wat keuring verbeur of ʼn skoolkind wat nie Cravenweek-rugby mag speel nie oor die span se kwota wit spelers vol is. Erger nog: ons betaal die prys van uitsluiting wanneer ondernemings sake met die staat wil doen, en in die ekonomiese skade van ʼn korrupte kaderekonomie wat onder die dekmantel van swart bemagtiging floreer.
Dalk lyk die grootste koste nie eens soos note en munte nie. Dalk lyk dit soos miljoene werkgeleenthede wat Suid-Afrika kon gehad het as ekonomiese groei, eerder as rigiede rassebestuur, die hoofdoel was.
Ons betaal dit ook in die aanhoudende boodskap dat ras nooit heeltemal van die tafel mag verdwyn nie – nie eers oor jare van nou af nie, wanneer kinders van vandag, sonder enige aandeel in ʼn rassebedeling van weleer, steeds net as bevoorregte apartheidskinders kwalifiseer.
Daardie soort koste verskyn nie altyd op ʼn begrotingsstaat nie, maar gemeenskappe voel dit.
Ons skuld ons kinders iets beter. Eendag gaan hulle terugkyk na hierdie tyd en vra wat ons gedoen het toe dit makliker was om stil te bly, swartgallig te wees en nederlaag te aanvaar. Hulle gaan vra of ons maar net aanvaar het dat nóg ʼn generasie onder ʼn permanente rassebedeling moes leef.
Ons kan beslis nie antwoord dat ons moedeloos was nie. Veral nie wanneer haalbare oplossings binne ʼn realistiese tydsraamwerk, soos 2030, bestaan nie.
Soos Connie Mulder, die opsteller van die verslag, graag sê: “Suid-Afrika het lank genoeg op die spanfoto gefokus. Dis tyd dat ons weer op die telbord begin fokus.”
Dit is die moeite werd om voor te veg.
Klik hier om jou steun aan Solidariteit se padkaart na ʼn rasvrye Suid-Afrika in 2030 toe te sê.