Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Minister bieg dat Solidariteit-saak NGV knou toedien
Pieter Jordaan
Solidariteit beskou die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof teen die sogenaamde sertifikaat van behoefte vir gesondheidspraktisyns nie bloot as ’n tegniese regsuitspraak nie.
Wat op hierdie koel wintersoggend in Johannesburg gebeur het was ’n reuse-oorwinning vir mediese beroepslui, pasiënte en die beginsel dat gesondheidsorg nie deur sentralisering en staatsbeheer verbeter kan word nie.
Volgens Solidariteit raak die belang van dié oorwinning nou selfs groter in die lig van die regering se eie hofstukke oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), waarin die staat self erken dat die behoeftesertifikaat ʼn “sentrale pilaar” van die implementering van NGV was.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê die regering se eie woorde bevestig nou presies dit waaroor Solidariteit nog altyd gewaarsku het van artikels 36 tot 40 van dié gesondheidswet.
“Vir jare is mense vertel dat die behoeftesertifikaat bloot ’n administratiewe instrument is. Solidariteit het egter deurentyd gewaarsku dat dit veel groter is en hoe dit ’n instrument van sentralisering en staatsbeheer sal word. Nou erken die regering dit self in hofstukke.”
Volgens hofstukke wat onlangs in die groter NGV-saak ingedien is, beskryf dr. Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, dit só: “The certificate of need is a central pillar in the implementation of the NHI”.
Tog wys Van der Bijl daarop dat Motsoaledi in die openbaar en in die media probeer voorgee het dat daar geen noemenswaardige verband tussen die artikels van die gesondheidswet, of die sertifikaat van behoefte, én die NGV bestaan nie.
“Nou sê die regering in hofstukke die teenoorgestelde. Mens kan tog nie in die hof erken iets is ’n sentrale pilaar van NGV, maar in die openbaar voorgee dit maak nie saak nie,” sê Van der Bijl.
Solidariteit is verheug oor die Konstitusionele Hof se uitspraak en beskou dit as ’n groot oorwinning, veral vir gesondheidspraktisyns van alle soorte.
Die behoeftesertifikaat sou die staat toenemend die mag gegee het om te bepaal waar dokters, tandartse en ander mediese beroepslui mag praktiseer en waar nuwe praktyke of dienste tot stand gebring mag word al dan nie.
“Professionele mense is nie skaakstukke wat die staat op ’n kaart kan rondskuif om sy eie mislukkings te verbloem nie. Hierdie uitspraak bevestig dat dokters en ander beroepslui nie aan ’n sentrale staatsbeplanner behoort nie,” sê Van der Bijl.
Tog gaan hierdie oorwinning egter oor veel meer as net een stuk wetgewing.
Die groter vraag is of Suid-Afrika se gesondheidstelsel op vryheid en keuse, of op sentralisering en beheer gebou gaan word?
Daarom hou hierdie saak regstreekse implikasies vir Solidariteit se groter NGV-hofstryd in.
Die hofsaak is op ys terwyl die Konstitusionele Hof eers besluit of Ramaphosa hoegenaamd die regte prosesse gevolg het om die NGV-wet te bekragtig.
“Die NGV berus uiteindelik op dieselfde beginsel. Dit is dat die staat al hoe meer beheer moet kry en gewone mense al hoe minder keuses moet hê. Vandag is dit waar ’n dokter mag praktiseer. Môre is dit mense se vermoë om self vir beter privaat gesondheidsorg te betaal.
“Ons beskou die NGV-wet ook as ongrondwetlik. Buitendien is dit onbekostigbaar en onuitvoerbaar, en daarom is ons gereed om dit te beveg as dit voortgaan,” sê Van der Bijl.
Solidariteit beskou dit as ʼn beginselsaak.
Wanneer die staat mense se keuses met sentrale beheer vervang, is dit nie uitbreiding van vryheid nie maar inperking daarvan. Die Konstitusionele Hof het nou een van daardie sentrale pilare omgestamp en dit behoort ’n baie sterk boodskap vir die groter NGV-stryd te stuur.
Solidariteit sit daarom sy breër regstryd teen die NGV voort en vra die publiek om dit met ewe veel ywer te ondersteun.
Hierdie saak gaan oor meer as net beleid. Dit gaan oor die vraag of Suid-Afrikaners die reg gaan behou om oor hul eie gesondheid, hul eie beroepe en uiteindelik hul eie toekoms te besluit.