Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-herstel-van-sa-vsa-verhouding-is-moontlik-begin-met-uitfasering-van-rassewette

Fotokrediet: Solidariteit

Solidariteit: Herstel van SA-VSA-verhouding is moontlik; begin met uitfasering van rassewette

Solidariteit is oortuig daarvan dat die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA steeds herstel kan word, maar dat dit ’n sterker verbintenis van die Suid-Afrikaanse regering sal verg. ’n Aankondiging oor die uitfasering van rassewette kan in dié verband ’n korrekte en noodsaaklike eerste stap wees.

Solidariteit het gereageer op die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, se aankondiging oor nuwe visumbeperkings teen Suid-Afrikaanse individue wat verantwoordelik of medepligtig geag word vir rasse-diskriminerende wetgewing, dreigemente van onteiening sonder vergoeding en die aanmoediging van rassegeweld. Rubio se aankondiging volg op herhaalde waarskuwings deur president Donald Trump en lede van sy regering oor Suid-Afrika se rassebeleid, eiendomsreg en retoriek teen minderhede.

Ambassadeur Leo Brent Bozell III, se uitspraak vroeër vandag dat die tyd vir eindelose dialoog tussen die twee regerings uitgeloop het, dui op ’n diepliggende frustrasie by die Amerikaners wat al vir 19 maande probeer om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig om tot ’n ooreenkoms in te stem.

Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het sedert die begin van verlede jaar met die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regering geskakel en omvattende voorstelle vir ’n skikking voorgelê. Ons het die feite op die tafel geplaas, oplossings voorgestel en deurgaans beklemtoon dat Suid-Afrika en die Verenigde State natuurlike vennote behoort te wees. Ons wil sien dat daar dringend opgetree word om die verhouding tussen die twee lande te herstel. Dit is steeds moontlik.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, moet dit begin met die uitfasering van rassewette en enkele ander noodsaaklike beleidsveranderinge, veral ten opsigte van minderheidsregte, buitelandse beleid en eiendomsreg. “Die Suid-Afrikaanse regering moet eiendomsreg sonder uitsondering beskerm, haatspraak en gewelddadige retoriek ondubbelsinnig veroordeel, plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad hanteer en terugkeer na ware onverbonde buitelandse beleid,” aldus Hermann.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, is Rubio se aankondiging die logiese uitvloeisel van ’n regering wat weier om sy rasmalheid te staak, selfs sou dit die land se ekonomie uiters nadelig raak. “Solidariteit het Amerika nie teen Suid-Afrika opgestook nie. Ons het die waarheid gesê deur die uiters negatiewe gevolge van rassewette eers aan die Suid-Afrikaanse regering en ander Suid-Afrikaanse rolspelers, en daarna ook aan die Amerikaanse regering en regerings in Europa te verduidelik. Buitelandse beleggers is versigtig om in Suid-Afrika te belê weens die las wat rassewette op hulle bedrywighede in Suid-Afrika plaas.”

Solidariteit het sedert Trump se ondertekening van ’n uitvoerende bevel oor Suid-Afrika in Februarie verlede jaar by die Withuis, die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake en die Kongres in Washington voorgestel dat geen stappe teen Suid-Afrika geneem word wat gewone Suid-Afrikaners kan benadeel nie. “Die aankondiging deur Rubio gisteraand behels geteikende optrede teen politici en stuur ’n baie sterk boodskap dat die Amerikaanse regering nie die voortdurende diskriminerende beleid en retoriek in Suid-Afrika gaan verduur nie. Optrede teen sommige politici is ’n positiewe stap aangesien hulle vir te lank gedink het hulle kan eenvoudig aanhou om beleid te implementeer wat ’n oortreding van internasionale konvensies oor rassediskriminasie is en wat sonder twyfel oor jare rassespanning in die land aangewakker het. Solidariteit is oortuig daarvan dat die verhouding tussen die twee lande steeds vinnig herstel kan word en ons is verbind daartoe om te doen wat ook al nodig is om dit te vermag. Die regering moet egter ophou om ras as beleid te gebruik en begin om almal gelyk voor die wet te behandel,” aldus Kleynhans.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel