Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Petisie vra parlement om sinkende GDO nóú onder administrasie te plaas
Sien Solidariteit en die SOS se petisie aan die parlement, hier aangeheg
Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandag ʼn petisie aan die parlement én die leierskap van die DA en die VF Plus oorhandig waarin hy versoek dat die Gautengse departement van onderwys (GDO) dadelik onder administrasie geplaas word.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het by die oorhandiging van die petisie in Kaapstad gesê die GDO het versuim om statutêr verpligte skoolsubsidies aan skole te betaal.
“In ʼn antwoord op ʼn vroeëre aanmaning van Solidariteit het die GDO self erken hy kan nie meer sy plig teenoor skole met die betaling van subsidies nakom nie.
“Dit is duidelik dat hierdie departement ʼn departement in verval is en dat hy eenvoudig nie meer aan sy grondwetlike verpligtinge kan voldoen nie,” sê Hermann.
Met die petisie dui Solidariteit en die SOS aan hoe die GDO se administratiewe en finansiële wanbestuur, asook sy gebrekkige beplanning en versuim om skole en onderwysers na behore te ondersteun, die provinsie se onderwysstelsel uiteindelik op sy knieë dwing.
Die DA en die VF Plus is verder versoek om die petisie in die parlement ter tafel te lê en om druk op die regering van nasionale eenheid uit te oefen om dadelik in te gryp.
Volgens Solidariteit en die SOS is die probleme binne die GDO nie meer bloot enkele administratiewe tekortkominge nie, maar ʼn sistemiese krisis wat die toekoms van duisende leerders in gevaar stel.
“Gauteng se leerders betaal die prys vir ʼn departement wat nie sy basiese verantwoordelikhede kan nakom nie. Die situasie vereis nou ingryping op die hoogste vlak moontlik asook daadwerklike aanspreeklikheid,” sê Melanie Buys, hoof van die SOS.
Buys sê die GDO se gebrekkige ondersteuning en administratiewe verval hou ʼn regstreekse bedreiging in vir skole se vermoë om gehalteonderrig te verseker.
“Die departement faal in sy eie kernverantwoordelikhede, maar wil nogtans groter beheer oor goed funksionerende skole uitoefen. Skole en gemeenskappe moet toenemend self verantwoordelikheid aanvaar en geld beskikbaar stel net om gehalteonderrig te kan bied.
“Indien hulle dié verantwoordelikheid dra, moet hulle noodwendig ook groter inspraak in en besluitnemingsmag oor die bestuur van hul skole hê,” sê Buys.
Volgens Buys behoort die departement skole en beheerliggame as vennote te behandel en moet hulle bemagtig word om oplossings te vind wat in hul gemeenskappe se besondere behoeftes voorsien.
“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe die geld, kundigheid en arbeid aan skole moet voorsien, maar terselfdertyd al hoe minder seggenskap kry oor hoe hierdie einste skole bestuur word,” sê Buys.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, word onderwysers daagliks gedwing om die gevolge van die departement se mislukkings te dra.
“Onderwysers moet al hoe meer administratiewe en maatskaplike probleme hanteer, terwyl die ondersteuning wat hulle van die departement ontvang, al hoe minder word.
“Hulle kan nie aanhou om ʼn stelsel wat van bo af verbrokkel op hul skouers te dra nie,” sê Botha.
Solidariteit en die SOS doen daarom ʼn gesamentlike beroep op die parlement om die petisie dringend te bespreek en die nodige stappe te doen om die GDO nou onder administrasie te laat plaas.