loading
avatar
Mediaverklarings
4 uur gelede
rassevoorskrifte-in-staatsverkryging-ongrondwetlikverklaar

Fotokrediet: Verskaf

Rassevoorskrifte in staatsverkryging ongrondwetlik verklaar

Solidariteit het vandag nog ʼn groot slag geslaan nadat die Konstitusionele Hof in sy guns beslis het met die uitspraak dat die Openbare Verkryging Wet onregmatig in plek gesit is, en as gevolg daarvan mag rassevereistes nie tot onmiddellike uitsluiting in tenderprosesse lei nie.

Die saak, wat in Mei vanjaar aangehoor is, handel oor die Wet op Openbare Verkryging, die proses om die wet in plek te stel en die rassevereistes wat gestel word vir aansoekers wat met die staat wil sake doen. Hierdie vereistes is nie net strenger as in die verlede nie, maar kan ook volgens die verwerpte wet tot onmiddellike uitsluiting uit tenderprosesse lei.

Solidariteit se standpunt was deurgaans dat die wet onregmatig in plek gestel is, dat die staat se aankope nie volgens rassevereistes mag geskied nie en dat die wet derhalwe geskrap moes word.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, kan hierdie verkrygingsreëls as die staat se eie interne rassereëls beskou word.

Hierdie interne reëls skryf voor hoe staatsinstellings ras moet gebruik wanneer hulle besluit by wie hulle belastingbetalers se geld bestee.

“Die regering het oor dekades gesorg dat ras al hoe dieper in feitlik elke hoek van die ekonomie ingeskryf is. Vandag het nóg ’n belangrike kaart van daardie kaartehuis geval.

“Hierdie uitspraak oor openbare verkryging is ʼn oorwinning vir Solidariteit, maar dit strek ten bate van elke Suid-Afrikaner.

“Wanneer die staat byvoorbeeld ʼn pad laat bou, rekenaars aankoop of ʼn diensverskaffer aanstel, behoort die eerste vraag te wees wie die werk die beste en teen die beste waarde kan doen, en nie aan watter ras die verskaffer behoort nie,” sê Van Der Bijl.

Solidariteit glo sterk daarin dat hierdie fondse benut moet word om te verseker dat die belastingbetaler ʼn goeie dividend op sy swaarverdiende geld kry, en nie om die regering se rassebeleid af te dwing nie.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), strek die betekenis van die uitspraak veel verder as staatsverkryging. Hy glo ook die uitspraak staan in nie isolasie nie en meen dit is duidelik dat die tempo waarteen die regering se rassebedeling plaaslik én internasionaal onder druk kom, nou toeneem.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het pas ʼn nuwe visumbeperkingsbeleid aangekondig wat onder meer persone teiken wat volgens die Amerikaanse regering verantwoordelik vir of medepligtig is aan die instelling of toepassing van rasgebaseerde diskriminerende wetgewing of beleid in Suid-Afrika.

“Binne die bestek van enkele dae sien ons dus plaaslik én internasionaal hoe die temperatuur rondom Suid-Afrika se rassebeleid styg. Die raswet-kaartehuis is besig om te wankel, en ons sal die druk verhoog om te verseker dat hy val,” sê du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel