Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit vra dringende optrede om ʼn bykomende 12,5%-tarief op uitvoere na VSA te stuit
Solidariteit het vanmiddag kommer uitgespreek oor ʼn bykomende 12,5%-tarief wat op Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA gehef kan word, nadat die Amerikaanse handelsverteenwoordiger bevind het dat Suid-Afrika gefaal het om ʼn doeltreffende verbod op die invoer van goedere wat met dwangarbeid vervaardig word, in te stel en af te dwing.
Die VSA het ook alle ander lande wat hiervoor ondersoek is, skuldig bevind.
Volgens die Amerikaanse regering is sulke praktyke nalatig en onredelik, en belas of beperk Amerikaanse produksie en uitvoere. Die bevinding teen Suid-Afrika, en ander lande, beteken dat die VSA nou ʼn bykomende 12,5%-invoertarief op invoere uit hierdie lande kan hef.
Solidariteit ag dit ook noodsaaklik dat Suid-Afrika ʼn afdwingbare beleid moet implementeer wat plaaslike werkers teen invoere van lande waar dwangarbeid plaasvind, moet beskerm. Die uitbuiting van werkers in beide plaaslike en internasionale voorsieningskettings is onaanvaarbaar, maar daar is ander maniere om hierdie kwessie aan te spreek.
Strafmaatreëls soos tariewe raak hoofsaaklik eerlike werkers en vervaardigers wat nie self by dwangarbeid betrokke is nie, terwyl dit min direkte druk op die werklike skuldiges plaas. Dit lei tot hoër produksiekoste, werksverliese in uitvoergerigte sektore en ʼn verswakte ekonomie wat reeds onder hoë werkloosheid ly.
Hoewel baie lande deur die VSA hieraan skuldig bevind is, noodsaak dit die Suid-Afrikaanse regering en die burgerlike samelewing om weer eens die VSA te probeer oortuig om nie met die tariewe voort te gaan nie. In die belang van Suid-Afrikaanse werkers, wat reeds onder enorme druk verkeer, moet daar nou saamgewerk word om hierdie tariewe te voorkom.
Die swak toestand van Suid-Afrika se verhouding met die VSA benadeel steeds ekonomiese betrekkinge en vandag se bevinding bevestig die dringendheid om die verhouding tussen die twee lande te herstel.