Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit soek dringend antwoorde oor subsidiekrisis wat bejaardesorg bedreig
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk het ʼn dringende skrywe aan die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) in Gauteng en die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Nomantu Nkomo-Ralehoko, gerig oor die vertragings met subsidiebetalings aan organisasies wat noodsaaklike dienste aan spesifiek bejaardes lewer. Sien skrywe hier.
Organisasies wat daagliks vir van die mees kwesbare mense in die samelewing moet sorg word volgens Bianca Smit, koördineerder van Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, in ʼn onmoontlike posisie geplaas terwyl daar steeds van die organisasies verwag word om dienste sonder onderbreking voort te sit.
Dit geld veral vir organisasies wat bejaardes met tuisversorging bystaan en wat in die verlede op subsidies kon staatmaak.
“Die departement se versuim om subsidies te betaal of om selfs net duidelikheid oor finansiering te gee, plaas nie net organisasies onder druk nie. Dit plaas die veiligheid, gesondheid en waardigheid van bejaardes in gedrang,” sê Smit.
“Die organisasies weet nie meer wanneer gelde betaal gaan word en of dit nog enigsins in die vooruitsig is nie.”
Die netwerk is deur lede by die Pretoria Raad vir Bejaardes en die Silwerkroon-tuisversorgingsprogram ingelig dat diensvlakooreenkomste steeds nie afgehandel is nie en dat finansiering nog nie goedgekeur is nie, ondanks die feit dat dienste onverpoosd moet voortgaan.
Die departement self verwys bejaardes nog na die organisasies toe. Solidariteit waarsku dat die behoefte aan sorg nie verdwyn bloot omdat subsidiebetalings uitbly nie.
“Bejaardes word nie minder kwesbaar omdat die departement agter raak met sy administrasie nie.
“Hulle bly afhanklik van maatskaplikewerkdienste, tuisversorging, voedingsprogramme, gesondheidsmonitering en beskermingsdienste. Die staat kan nie sy verantwoordelikheid versuim en verwag dat welsynsorganisasies die las alleen moet dra nie,” sê Smit.
Volgens inligting wat die netwerk ontvang het, verkeer verskeie organisasies reeds op die rand van operasionele ineenstorting. Dienste word afgeskaal, minder mense kan gehelp word en die verlies van ervare en professionele personeel word nou ʼn toenemende risiko.
“Wanneer hierdie organisasies begin knak, is dit nie die departement wat eerste die gevolge dra nie, maar wel die bejaarde wat alleen by die huis sit.
“Dit is die kwesbare ouer persoon wat minder ondersteuning ontvang en dit is families wat skielik sonder hulp gelaat word,” verduidelik Smit.
Solidariteit waarsku dat die gevolge reeds sigbaar is en glo druk neem toe op families en gemeenskappe wat ʼn verhoogde risiko van verwaarlosing laat ontstaan. Die moontlike sluiting van gemeenskapsgebaseerde programme sal die situasie verder vererger.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk eis daarom dat die departement onmiddellik duidelikheid gee oor die status van finansiering en dat hy tydlyne vir uitstaande betalings bekend sal maak.
Verder moet betekenisvolle konsultasie met diensverskaffers gevoer word en ʼn noodplan die lig sien om die voortgesette versorging van bejaardes sodoende te beskerm.
Solidariteit het die departement versoek om binne sewe dae op sy skrywe te reageer.