Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Boustene Van Bemarking: Skoolbemarkers Geniet Prettige Netwerkgeleentheid
Deur Leré Nel
Daar is iets wat skoolbemarkingsbeamptes goed weet: Die bemarking van ʼn skool verskil hemelsbreed van die bemarking van enige ander onderneming. Tog kan verskillende bemarkers baie by mekaar leer …
Dit is volgens Anlia Archer, organiseerder van Solidariteit se Kommunikasie en Bemarkingsnetwerk, die rede vir die Boustene van Bemarking-netwerkgeleentheid.
“Elkeen van ons wat hier is – elke bemarker, kommunikasiepraktisyn en elkeen wat by ʼn skool betrokke is – het iets om te leer en kennis om te deel,” het sy gesê nadat sy ʼn prettige speletjie met die deelnemers gespeel het om hulle te wys hoe almal verbind is. “Dít is die krag van netwerke.”

Skoolbemarking gaan oor veel meer as net advertensies en sosiale media. Dit gaan daaroor om ʼn skool se identiteit, waardes en kultuur só uit te beeld dat ouers, leerders en die breër skoolgemeenskap daarmee kan identifiseer.
Elke skoolbemarker weet dit. Maar die vraag is hoe om dit te doen. En dit is wat hierdie netwerkgeleentheid so waardevol gemaak het.
Salomien Boshoff, ʼn dosent in Ondernemingsbestuur aan Akademia, het die oggend afgeskop met ʼn inspirerende uitkyk op skoolbemarking. Sy het veral op die boustene van suksesvolle skoolbemarking gefokus. Volgens haar kies baie ouers steeds skole wat naby hul woonplek geleë is, maar skole moet steeds hul unieke waarde duidelik kommunikeer om ouers te oortuig dat hul skool die beste keuse is.

Boshoff het verduidelik dat faktore soos personeelgehalte, gelukkige leerders, ondersteuningsfasiliteite, kultuur, waardes en die regte balans tussen prestasie en welstand alles deel vorm van ʼn skool se bemarkingsboustene.
“Wat ek hoop mense uit my praatjie sal leer, is hoe belangrik dit is om jou skool se identiteit mooi vir die buitewêreld uit te beeld. Die drie B’s: Wat is die belofte wat jy aan ouers maak?; wat is die betekenis van daardie belofte?; en wat is die bewys dat die belofte regtig waar is?” het Boshoff gesê.
Ouers gee nie so baie om oor trofeë en prestasies op jou Instagram-blad nie. Hulle wil gelukkige leerders, onderwysers wat omgee en ʼn positiewe kultuur sien.
Roelien Potgieter, bestuurder by GrootFM, het op haar beurt gefokus op advertensies, borgskappe en die belangrikheid van storievertelling eerder as bemarking. Sy het beklemtoon dat die suksesvolste skole nie noodwendig die grootste is nie, maar eerder dié wat hul storie die beste deur hul bemarking kan vertel en hul identiteit doeltreffend kan uitbeeld.
Volgens Potgieter speel emosie ʼn belangrike rol in bemarking. Wanneer ouers die waardes van hul eie huis raaksien en herken wat in ʼn skool weerspieël word, ontstaan daar ʼn sterker verbintenis. Sy het verskeie wenke gedeel oor hoe skoolbemarkers borge kan lok én behou. Deelnemers het daarna ʼn dinkskrum gehou en talle goeie idees uitgeruil.

Carel Bosman, hoof van borgskappe by Momentum, het die belangrikheid van verhoudingsbou in borgskappe beklemtoon. Hy het verduidelik dat die dae verby is waar sigbaarheid alleen genoeg was om ʼn handelsmerk – of in hierdie geval, ʼn skool – te laat groei.
Volgens Bosman is gemeenskapsnetwerke en word of mouth-bemarking die kragtigste vorme van bemarking in vandag se era van digitale oorlading. Hy het deelnemers aangemoedig om borgskapaansoeke eenvoudig en bondig te hou en eerder te fokus op die bou van langtermynverhoudings met moontlike borge eerder as om koue saketransaksies na te streef.
Die laaste spreker, Elizabeth Olivier, stigter en besturende direkteur van Fluke Media, het praktiese raad oor sosiale media gedeel. Sy het verduidelik dat skole, net soos ander organisasies, moet fokus op die skep van waardevolle inhoud eerder as op direkte advertensies.
Volgens Olivier moet sosialemedia-inhoud iets wees wat mense wil stoor, deel of later weer na wil kyk. Sy het ook gewaarsku teen plasings wat soos advertensies of strooipos lyk en beklemtoon dat egtheid al hoe belangriker word.
Sy het onder meer insigte gedeel oor die waarde van sogenaamde “vox pops”, natuurlike video-inhoud, tendense, betaalde media en gevorderde teikenstrategieë.

Hierdie geleentheid het deelnemers nie net aan nuwe idees blootgestel nie, maar ook waardevolle netwerkgeleenthede geskep.
“Salomien se praatjie was ingrypend,” het Lindie Phaal, skoolbemarker by Laerskool Muldersdrift in Krugersdorp, gesê. “Dit het my laat voel asof bemarking eintlik maklik is. Alles kliek nou!”

Lelanie Burger, ook van Laerskool Muldersdrift, het gesê dat hierdie geleentheid om bymekaar te kom met ʼn hele koffiewinkel vol mense wat dieselfde werk as sy probeer doen, baie waardevol was. “By ons tafel alleen is daar soveel wonderlike idees uitgeruil,” het sy gesê. “Elke nuwe persoon wat jy ontmoet, leer jou iets nuuts.”
Skoolbemarkers word dalk nooit in die pragtige Instagram-video’s en Facebook-foto’s gesien nie – maar ná hierdie oggend het elke bemarker met hernude ywer, vars idees en ʼn nuwe waardering vir hul werk weggestap.
Sluit aan by die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk om seker te maak dat jy nie die volgende geleentheid misloop nie!