Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Bela: Die volgende stap
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het aan Solidariteit en AfriForum geskryf dat sy besig is met ’n proses om riglyne vir die implementering van die Bela-wet te ontwikkel.
Sy meen dat baie van Solidariteit en AfriForum se bekommernisse, soos uiteengesit in hulle regsbriewe aan haar, deur hierdie riglyne aangespreek kan word.
Solidariteit en AfriForum het regskrywes aan president Ramaphosa en minister Gwarube gestuur waarin hulle ’n tydperk van tien dae gegun is om te reageer voordat verdere regstappe gevolg sal word.
Tans is daar ’n proses aan die gang waarin rolspelers tot 7 Februarie insette oor dié riglyne kan lewer. Minister Gwarube beplan om die riglyne twee weke ná hierdie datum te publiseer.
Solidariteit het reeds insette gelewer met duidelike voorstelle om Afrikaanse skole te beskerm. Dit is ons minimum voorwaardes.
In haar brief versoek sy dat Solidariteit en AfriForum hulle regsaksie teen haar oor die promulgeringsaksie uitstel totdat die riglyne gepubliseer is.
Solidariteit en AfriForum se regspan het in hulle reaksie aangedui dat hul bereid is om eers die riglyne te oorweeg. Ons sal haar proses en die insette van al die betrokke rolspelers respekteer.
Indien die riglyne egter nie aan ons verwagtinge voldoen nie, of indien dit glad nie gepubliseer word nie, sal ons eenvoudig voortgaan met die regsaksie.
Ons weet presies wat ons wil hê: beskerming van Afrikaanse skole. Ons gaan nie afwyk van die beginsels wat reeds by Nedlac bereik is nie.
Riglyne het egter beperkte krag. Selfs al is ons tevrede met die inhoud van die riglyne, sal ons eers werklik tevrede wees as dit ook in norme en standaarde vervat word.
Ons behou die reg voor om enige tyd voort te gaan met regsaksie teen die hele wet.
Die stryd duur voort.