Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Bela-regulasies moet skole bemagtig, nie beheer nie – Solidariteit
Skole en beheerliggame moet toegelaat word om dít te doen waarmee hulle goed is – bestuur, skoolhou en om op te tree in die beste belang van leerders.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk het hierdie siening beklemtoon met die indiening van sy kommentaar op drie van die jongste konsepregulasies wat voortspruit uit die Bela-wetgewing.
Klik op die skakels vir Solidariteit se uitgebreide kommentaar oor die regulasies oor bykomende vergoeding, verkiesing van beheerliggame en onderwyserontwikkeling.
Volgens Johan Botha, woordvoerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk, weet skoolhoofde, bestuurspanne, onderwysers en beheerliggame beter as enige amptenaar wat op ’n praktiese vlak in hul skole werk.
“Regulasies moet skole ondersteun en hul outonomie versterk. Dit moet nie die mag van beheerliggame verswak of nuwe ruimte vir onnodige departementele inmenging skep nie.
“Ondersteuning moet gebied word waar dit werklik nodig is,” sê Botha.
Solidariteit steun byvoorbeeld elektroniese beheerliggaamverkiesings, maar waarsku teen wye diskresionêre magte vir amptenare en teen bepalings wat goedfunksionerende skole aan dieselfde vlak van monitering onderwerp as skole wat werklik ondersteuning nodig het.
Die organisasie maak ook beswaar teen voorstelle vir verpligte vorms wat die ras van individuele beheerliggaamslede en die rassesamestelling van skole se leerders wil aanteken.
Dít, sonder dat die regulasies ’n duidelike doel vir hierdie rassekategorisering aandui.
Met betrekking tot onderwyserontwikkeling waarsku Solidariteit teen duur nuwe staatsinfrastruktuur waar bestaande skole, koshuise, universiteite en geakkrediteerde opleidingsverskaffers reeds gebruik kan word.
Botha sê Solidariteit hoop die departement sal die kommentaar wat hy van skole en ander rolspelers ontvang, ernstig opneem.
“Dit is húlle wat hierdie regulasies elke dag moet uitvoer. Hulle is daarom die mense wat die beste weet wat redelik, uitvoerbaar en in die beste belang van skole en kinders is.”
“Goeie regulasies moet goeie skole toelaat om goeie skole te wees.”