Foto Krediet: Bo-Karoo Opleiding (Facebook)
Gekopieër
Bo-Karoo Opleiding groei volstoom
Deur Kyla-Ann du Toit
“Gronde vir groei; hoër hoogtes met dieper wortels.” Met hierdie tema vir 2026, fokus Bo-Karoo Opleiding (BKO) vanjaar daarop om ʼn volhoubare toekoms vir studente, asook die gemeenskap te help bou.
BKO gaan van krag tot krag met verskeie nuwe ontwikkelingsprojekte. Hierdie ontwikkeling weerspieël nie net die instelling se groei nie, maar ook die groeiende behoefte aan Afrikaanse beroeps- en landbou-opleiding.
Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, vier die instelling vanjaar in sy sewende bestaansjaar met 248 studente en 30 personeellede.
“Dit is vir ons as instelling belangrik om tot die uitbreiding van ons gemeenskap by te dra om só die toekoms te bou ,” sê Vogel.
Een van die grootste verwikkelinge tot dusver in 2026 is die uitbreiding van BKO se tegniese kampus, Technika. Ná die suksesvolle voltooiing van die bestaande fasiliteite net twee jaar gelede, word daar reeds verder uitgebrei weens die groot belangstelling in tegniese kwalifikasies. ʼn Sooispitseremonie vir ʼn nuwe werkswinkel vind in Junie plaas, terwyl die eerste fase van die projek ook ses nuwe klaskamers en ekstra kantoorruimte insluit.
“Ons brei ons fasiliteite uit met twee nuwe werkswinkels en ses klaskamers,” sê Vogel. “Ons verdiep ook ons bestaande kwalifikasies met bykomende toerusting en waardetoevoeging om studente beter vir die werkplek toe te rus.”
BKO fokus ook sterk op die uitbreiding van studenteverblyf. Steenbok Herberg, die bekende manskoshuis langs die Orania-sportgronde, ondergaan in Julie ʼn opgradering. Dié koshuis, wat oorspronklik deur van BKO se eerste afgestudeerde studente gebou is, sal uitgebrei word om meer inwoners te akkommodeer en steeds ʼn veilige en moderne omgewing vir studente te bied.
Daarby word twee nuwe blokke by die Olienhout-ontwikkeling gebou om verdere studente-akkommodasie vir 2027 te voorsien. Hierdie moderne woonstelle sal mansstudente huisves, terwyl ʼn nuwe damesdaghuis ook binnekort gestig word om aan die toenemende vraag te voldoen.
Volgens Vogel sal die nuwe uitbreidings BKO se koshuise op twee dorpskoshuise en vier fisiese koshuise te staan bring.
Daar word ook groot groei by die Leer-My-Hoe-proefplaas gesien. Sedert Januarie het die proefplaas van ʼn enkele 20 m by 30 m-tonnel uitgebrei na 22 hektaar grond, waarvan 7,5 hektaar onder besproeiing is. Die uitbreiding ondersteun die toenemende belangstelling in landbou-opleiding, met 50 nuwe eerstejaarstudente wat vanjaar vir Boerderybestuur ingeskryf het.
“Ons is goed op dreef met die ontwikkeling van ons programme, veral gefokus op landbou en bou en siviel,” sê Vogel.
Vir BKO gaan hierdie uitbreidings egter oor meer as net die oprigting van nuwe infrastruktuur en die uitbreiding van studierigtings. Hulle neem studente op ʼn plattelandse vormingsreis waar hulle vry, veilig en vlytig deur hul studieloopbaan kan beweeg en as jong volwassenes hulself vir die werkplek kan voorberei.
Gehalte-opleiding lê die grondslag vir ʼn suksesvolle toekoms. BKO is egter op meer as net studies toegespit. By BKO ontwikkel studente op ʼn persoonlike vlak, bou hulle lewenslange vriendskappe en beleef hulle veilige studentepret binne ʼn vry, veilige en voorspoedige gemeenskap in die hartjie van die Karoo.
Studieaansoeke vir 2027 is nóú oop. Klik hier vir meer inligting oor hierdie kampus sonder mure! Hou ook BKO se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die opedag wat 12 tot 13 Junie 2026 plaasvind.
“ʼn Boom groei nie oornag nie. Hy groei stadig; dit neem tyd, maar sy wortels gaan diep – en hoe sterker die wortels, hoe hoër kan hy groei.”