Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Kan jy jou loopbaan bou as jou kantoor net ʼn skerm is?
Deur Reon Janse van Rensburg
Vir baie werknemers het afstandwerk die manier waarop hulle werk, permanent verander. Minder reistyd, groter buigsaamheid en meer tyd saam met die gesin. Vir baie mense is dit ʼn beter manier van werk.
Vir jong werknemers wat nog aan die begin van hul loopbaan staan, ontstaan daar egter ʼn belangrike vraag.
Kan ʼn skerm ooit alles vervang wat ʼn kantoor jou leer?
Die eerste paar jaar van ʼn loopbaan gaan oor veel meer as die werk waarvoor jy betaal word. Dit is die jare waarin jong werknemers leer hoe om moeilike gesprekke te voer, professioneel onder druk op te tree en die ongeskrewe reëls van ʼn beroep te verstaan.
Baie van hierdie lesse word nooit tydens formele opleiding aangeleer nie. Jy leer dit wanneer jy sien hoe ʼn bestuurder ʼn moeilike kliënt hanteer, hoe ervare kollegas ʼn probleem oplos of wanneer iemand ná ʼn vergadering sê: “Kom ek wys jou gou iets.” Dit is die soort informele leer wat moeilik beplan kan word, maar dikwels die grootste verskil aan ʼn jong werknemer se ontwikkeling maak.
Juis hierdie daaglikse blootstelling aan ervare kollegas en die manier waarop dinge in die praktyk werk, is iets wat jong werknemers maklik misloop wanneer hulle hoofsaaklik op afstand werk.
Die New York Fed waarsku dat jong werknemers wat hoofsaaklik op afstand werk, minder blootstelling aan mentorskap, informele leergeleenthede en professionele ontwikkeling kry. Dit beteken nie noodwendig dat hulle minder produktief is nie, maar wel dat hulle stadiger die ervaring, oordeel en selfvertroue ontwikkel wat gewoonlik gedurende die eerste paar jaar van ʼn loopbaan opgebou word.
Dieselfde kommer word deur die Institution of Occupational Safety and Health (IOSH) beklemtoon. Volgens dié organisasie kan afstand- en hibriede werk jong werknemers se ontwikkeling benadeel omdat spontane gesprekke, gereelde terugvoer en professionele verhoudings moeiliker ontwikkel wanneer mense hoofsaaklik van die huis af werk.
Dit beteken egter nie dat afstandwerk die probleem is nie. Die uitdaging is eerder dat jong werknemers doelbewus die geleenthede moet skep wat vroeër vanself in die kantoor ontstaan het.
Die loopbaangeleenthede wat afstandwerk nie bied nie
Mentorskap, professionele netwerke en gereelde kontak met ervare beroepslui speel al lank ʼn sleutelrol in loopbaanontwikkeling. Wanneer hierdie geleenthede nie meer daagliks in die kantoor ontstaan nie, word dit belangriker om dit doelbewus te skep.
Dit is juis waar Solidariteit se beroepsnetwerke ʼn waardevolle rol speel. Hulle bied jong beroepslui die geleentheid om met mense in dieselfde beroep te skakel, professionele verhoudings te bou, aan betekenisvolle gesprekke deel te neem en deel te word van ʼn beroepsgemeenskap waar kennis en ervaring gedeel word.
Deur netwerkgeleenthede by te woon en van Solidariteit se mentorskapprogram gebruik te maak, kry jong werknemers ook toegang tot ervare beroepslui wat praktiese raad, eerlike terugvoer en begeleiding kan bied.
Skep jou eie geleenthede
Afstandwerk hoef nie ʼn struikelblok vir jong werknemers te wees nie. Dit verg bloot iets wat vroeër minder nodig was: doelbewuste betrokkenheid. Jy sal aktief moet soek na die mense by wie jy kan leer want ʼn skerm kan jou met jou werk verbind, maar dit is mense wat jou met jou beroep verbind.
Klik hier om vandag nog by een van Solidariteit se beroepsnetwerke aan te sluit en verseker só dat jy nie die geleenthede misloop wat ʼn skerm alleen nooit vir jou kan bied nie.