Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Jou CV kry jou die onderhoud – jou reputasie kry jou die werk
Deur Reon Janse van Rensburg
Die persoon met die beste CV kry nie altyd die werk nie.
Twee mense doen aansoek vir dieselfde pos. Hulle beskik oor soortgelyke kwalifikasies en ervaring, maar tog word net een vir ʼn onderhoud genooi. Die verskil lê dikwels nie in die CV nie, maar in iets wat lank voor die werkaansoek opgebou is: jou professionele reputasie.
Interessant genoeg toon navorsing deur die Harvard Business School dat nuwe loopbaangeleenthede dikwels nie deur jou beste vriende of naaste kollegas ontstaan nie. Dit kom eerder uit professionele netwerke – mense wat jou werk ken, maar met wie jy nie noodwendig gereeld kontak het nie. Juis omdat hulle in ander professionele kringe beweeg, hoor hulle dikwels eerste van nuwe geleenthede en is in ʼn posisie om jou naam te noem wanneer die regte geleentheid opduik.
LinkedIn bevestig dieselfde beginsel. Professionele netwerke en verwysings speel steeds ʼn belangrike rol in hoe mense van nuwe werkgeleenthede hoor en uiteindelik aangestel word. Wanneer iemand jou aanbeveel, is jy nie meer net nóg ʼn CV op ʼn stapel nie – of deesdae nóg ʼn CV wat eers deur ʼn algoritme of KI-filter beoordeel moet word nie – maar iemand in wie ʼn ander beroepspersoon reeds vertroue het.
Dít is waarom ʼn professionele reputasie nie eers gebou word wanneer jy werk begin soek nie. Dit word gebou op die dae wanneer niemand kyk nie – deur die netwerke wat jy vestig, die manier waarop jy jou werk doen, hoe jy ander behandel en of mense bereid is om jou naam met vertroue te noem wanneer ʼn geleentheid ontstaan.
As nuwe geleenthede dikwels uit professionele verhoudings voortspruit, raak dit al hoe belangriker om doelbewus deel van ʼn sterk beroepsgemeenskap te wees. Solidariteit-aanlyn is ʼn aanlyn beroepsgemeenskapwat lede help om professionele netwerke uit te bou, netwerkgeleenthede by te woon en hul naam oor tyd in hul bedryf te vestig.
Vir beroepslui wat hul professionele netwerk verder wil uitbrei, bied Solidariteit ook verskeie beroepsnetwerke. Van kommunikasie en bemarking, finansies, ambagte en maatskaplike werk tot IT, onderwys, die regswese en die mediese beroep – hierdie beroepspesifieke gemeenskappe bied lede die geleentheid om met ander in hul vakgebied te skakel en hul professionele sigbaarheid te versterk.
Die waarde van só ʼn beroepsgemeenskap lê egter nie net daarin dat mense mekaar leer ken nie. Dit skep ook ʼn ruimte waar werkgewers en werknemers makliker met mekaar in verbinding tree, waar kennis gedeel word en waar beroepslui sigbaar raak binne hul eie bedryf. Só ontstaan ʼn arbeidsmark wat deur die gemeenskap self versterk word – een waarin geleenthede nie net op advertensieplatforms verskyn nie, maar ook deur professionele verhoudings en aktiewe betrokkenheid ontstaan.
ʼn Sterk professionele reputasie help jou om raakgesien te word, maar dit is net so belangrik om sigbaar te wees waar nuwe geleenthede ontstaan. Solidariteit-aanlyn bring werkgewers en werksoekers bymekaar en gee beroepslui toegang tot poste in verskillende bedrywe.
Saam met ʼn sterk professionele netwerk vergroot dit die kans dat die regte geleentheid jou pad sal kruis. Jou CV sal altyd belangrik wees, maar jou volgende werkgeleentheid is dalk reeds in iemand anders se hande.
Die vraag is net: Watter naam gaan hulle noem?