Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Werkplekkultuur: Die ongeskrewe reëls wat sukses bepaal
Deur Nico Strydom
Waarom slaag sommige organisasies daarin om oor dekades heen aan te pas, te groei en mense te inspireer, terwyl ander, met dieselfde hulpbronne en talent, sukkel om hul doelwitte te bereik?
Die antwoord lê dalk minder in strategie en meer in kultuur. ʼn Nuwe Suid-Afrikaanse studie deur The Human Edge het bevind dat byna die helfte (49%) van ʼn organisasie se vermoë om goed te presteer deur sy kultuur bepaal word. Wanneer dit by innovasie kom is die invloed selfs groter, met 53% van ʼn organisasie se vermoë om te vernuwe wat deur die kultuur waarin mense werk beïnvloed word.
Dié bevinding daag die idee uit dat organisasiekultuur bloot ʼn “sagte” onderwerp is wat nie werklik gemeet kan word nie, sê Heléne Vermaak, direkteur van The Human Edge.
Volgens Vermaak beteken waardes op papier egter min indien dit nie elke dag in persone se gedrag sigbaar is nie.
“Kultuur en prestasie word dikwels as twee afsonderlike sake beskou. Hierdie navorsing wys egter dat hulle onlosmaaklik verbind is. Die gedrag wat mense elke dag ten toon stel, het ʼn direkte invloed op uitvoering én innovasie.”
Volgens die navorsing is dit nie groot strategiese besluite wat organisasies onderskei nie, maar eerder klein herhalende gewoontes.
In die navorsing het vyf gedragspatrone as die sterkste voorspellers van prestasie na vore gekom. Dit sluit in om vertroue te bou en ’n gedeelde gevoel van doelgerigtheid; om ooreenkomste na te kom of vroegtydig te heronderhandel; om die gedrag wat leiers van ander verwag te modelleer; om effektief oor verskille heen te werk; en om ander die voordeel van die twyfel te gee.
Hierdie bevindings sluit opvallend baie aan by Solidariteit se onlangse gesprek oor organisasiekultuur.
In ’n video oor werkplekkultuur wys Solidariteit daarop dat kultuur nie deur beleid of prosedures alleen geskep word nie. Dit word hoofsaaklik gevorm deur die voorbeeld wat leiers stel. Wanneer bestuurders een stel waardes verkondig maar anders optree, verloor organisasies vinnig geloofwaardigheid.
Werkplekkultuur gaan egter oor veel meer as produktiwiteit. Dit bepaal ook of mense soggens met entoesiasme werk toe kom en of hulle veilig voel om nuwe idees te deel.
Die studie toon dat organisasies wat sterk vaar op die vier kultuurpilare, naamlik hoëprestasiegewoontes, produktiewe verhoudings, gesonde kommunikasie en invloedryke leierskap, gemiddeld 47% beter presteer as organisasies waar hierdie eienskappe ontbreek.
“Die gedrag wat mense elke dag beoefen, het meetbare gevolge vir beide uitvoering en innovasie.”
Daardie verband word selfs duideliker wanneer hoog- en laagpresterende organisasies vergelyk word. Diegene met sterk vermoë oor al vier gebiede het 47% hoër algehele prestasie gerapporteer, tesame met 48% sterker uitvoering en 45% groter innovasie-uitkomste – ʼn gaping wat dui op kultuur as ʼn betekenisvolle mededingende voordeel eerder as ʼn sekondêre oorweging.