Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Eerste werk, maar geen ervaring? Só kry jy ’n voorsprong
Deur Reon Janse van Rensburg
“Intreevlakpos. Twee jaar ondervinding vereis.”
As jy op soek is na jou eerste werksgeleentheid en die advertensie lees iets soos hierbo, klink dit soos ʼn deur wat van binne gesluit is.
Werkgewers wil weet wat jy kan doen, maar dikwels het jy ʼn eerste geleentheid nodig om baie van die vaardighede wat in die werkplek tel, aan te leer. Die ervaringstrik is werklik, maar ʼn vorige voltydse pos is nie die enigste manier om bewyse van jou vermoë op te bou nie.
Volgens ʼn ontleding van Statistieke Suid-Afrika het 9,8% van werklose mense met vorige werkservaring in 2024 tussen die betrokke kwartale werk gekry, teenoor 2,6% van dié sonder ervaring. Dit beteken egter nie dat enige vorm van ervaring ʼn aanstelling waarborg nie, maar dit wys wel waarom ʼn eerste geleentheid regtig saak maak en waarom jong kandidate toepaslike ervaring ernstig moet opneem.
Wat tel as ervaring?
Begin by die werk wat jy reeds gedoen het. Het jy tydens ʼn vakansie kliënte gehelp, ʼn gemeenskapsprojek gereël, ʼn vereniging se geldsake behartig of as vrywilliger administrasie gedoen? Skryf neer watter verantwoordelikheid jy gedra het, watter vaardighede jy gebruik het en wat die uitkoms was. “Vrywilliger” alleen vertel min; “het ’n span van vyf se skofte gereël en ʼn weeklikse verslag saamgestel” gee ʼn werkgewer iets om te beoordeel.
Solidariteit se raad oor internskappe en vrywilligerwerk wys hoe om dié ervaring op jou CV sigbaar te maak.
Kry blootstelling voordat jy jou eerste pos kry
Soek blootstelling aan die werk wat jy eendag wil doen. Skaduwerk laat jou eerstehands sien hoe jou droomberoep in die praktyk lyk, terwyl ʼn internskap gewoonlik langer duur en jou meer kans gee om self take uit te voer. Dít kan jou beroepskeuse toets en iemand oor jou pad stuur wat later jou werk se geloofwaardigheid kan bevestig. Sulke geleenthede help jou ook om mense in die beroep te leer ken, verwysings op te bou en moontlike mentors te ontmoet wat jou later met raad of verdere blootstelling kan help.
Amy Broekman getuig self van haar ondervinding en hoe ʼn skaduwerkgeleentheid en ʼn eerste kennismaking met die werkplek tot ʼn volgende geleentheid gelei het – alles te danke aan die feit dat sy braaf genoeg was om die eerste tree te neem.
Solidariteit se beroepsnetwerke en loopbaaninisiatiewe skep juis geleenthede waar jong mense met mense in hul gekose beroep kan skakel en vroeë blootstelling aan die werkplek kan opdoen.
Ontwikkel jou vaardighede verder
Daar is egter heelwat paaie om jou ideale eindbestemming te bereik. ʼn Kortkursus kan die prentjie aanvul, mits dit by die werk pas wat jy soek. Pnet raai eerste werksoekers aan om ook kortkursusse, projekte, vrywilligerwerk en oordraagbare vaardighede op hul CV te wys.
Kies dus ʼn kursus wat ʼn spesifieke gaping vul, en gebruik die kennis daarna in ʼn taak of projek wat jy kan beskryf. Solidariteit se kursusse vir voortgesette leer bied sulke geleenthede.
Selfontwikkeling soos in die geval van Janique Kardos wys hoe kursusse haar vaardighede én haar CV versterk het. ʼn Sertifikaat word sterker wanneer jy kan wys wat jy daarmee gedoen het.
Vra by ʼn skaduwerk- of vrywilligergeleentheid of jy met ʼn spesifieke taak kan help. Dit kan wees om ʼn voorraadlys by te werk, navorsing saam te vat of ʼn geleentheid te help reël. Vra terugvoer wanneer jy klaar is en hou rekord van die taak en uitkoms. As die persoon wat jou werk gesien het, bereid is om later as verwysing op te tree, het jy meer as net ʼn inskrywing op jou CV, maar belangriker – iemand kan bevestig hoe jy gewerk het. Dit gee ook ʼn volgende werkgewer iets konkreet om oor uit te vra.
Jy hoef nie te wag dat iemand jou, jou eerste pos aanbied voordat jy begin bou nie. Kry blootstelling, leer iets bruikbaar, doen die werk waar jy kan en dokumenteer dit. Dan word “ek het nog nie ʼn voltydse pos gehad nie” ʼn eerlike beginpunt, eerder as die einde van jou aansoek.
Solidariteit bied verskeie hulpmiddels, geleenthede en ondersteuning om jong mense te help om hul loopbane doelgerig te begin bou. Skep vandag vir jou ʼn gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en neem jou volgende stap met meer kennis, blootstelling en selfvertroue.