
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Het jy ervaring as ʼn intern of vrywilliger? Dit is belangriker as wat jy dink
Deur Liza Joubert
Wanneer jy aan jou loopbaan begin dink, voel dit dalk asof jy eers ʼn formele werk moet hê om ‘regte’ ervaring te kan opdoen. Hier is die waarheid: internskappe en vrywillige werk, sowel as studenteleierskap en soortgelyke verantwoordelikhede, is van onskatbare waarde vir jou loopbaan.
Hierdie ervarings sê baie meer oor jou as net die titel op jou CV – dit wys dat jy inisiatief kan neem, kan saamwerk en dat jy oor die nodige vaardighede wat werkgewers soek, beskik.
Hoekom tel internskappe en vrywillige ervaring so baie?
1. Jy wys dat jy praktiese werk kan doen
Werkgewers wil weet dat jy jou kennis kan toepas. Internskappe en vrywillige werk wys dat jy gemaklik in ʼn span kan funksioneer, dat jy kan leer en aanpas, en dat jy take op ʼn selfstandige manier kan hanteer.
2. Jy ontwikkel sleutelvaardighede
Tydens hierdie ervarings leer jy hoe om met mense te kommunikeer, probleme op te los, jou tyd te bestuur en selfs hoe om konflik te hanteer – vaardighede wat in enige werkplek baie waardevol is.
3. Jy bou ʼn netwerk
Deur internskappe, studenteleierskap of vrywillige projekte ontmoet jy mense wat jou kan aanbeveel, mentors wat jou kan lei en kontakpersone wat jou kan help om geleenthede raak te sien.
Hoe verpak jy jou ervaring op ʼn slim manier in jou CV?
As jy jou CV opstel, moenie jou vrywillige of leierskapservaring net terloops noem nie, beklemtoon eerder hoe waardevol dit was. Oorweeg die volgende:
1. Gee elke geleentheid ʼn titel en datums.
Byvoorbeeld:
- • Studenteleier: Solidariteit Studentevereniging (2023-2024)
- • Vrywilliger: Jeugontwikkelingsprojek, Pretoria (2022)
2. Beskryf jou rol
Wat het jy gedoen? Byvoorbeeld:
- • Organisering en aanbieding van studentegeleenthede vir 200 persone
- • Fondsinsamelingsprojekte saam met ʼn bestuurspan, x en y is deur ons behaal
- • Administratiewe take vir ʼn nie-winsgewende organisasie gedoen.
3. Beklemtoon resultate
Noem hoe jou werk en bydrae ʼn verskil gemaak het:
- • “Verbeterde deelname aan studentegeleenthede met 30%”
- • “Gehelp om R50 000 vir ʼn gemeenskapsprojek in te samel”
Hierdie detail wys dat jy praktiese waarde toevoeg – presies wat werkgewers wil sien.
As deel van Solidariteit se beroepsnetwerke kry jy die geleentheid as jongwerkende om jou ervarings verder uit te brei, met mentors om en in jou beroepsveld te skakel en jou netwerk te laat groei. Dit is ook ʼn plek waar jy kan leer hoe om jou ervarings te gebruik om jou loopbaan aan die gang te kry.
Klik hier om jou profiel te skep en lees hier meer oor Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap.