loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
werk-jy-op-verkiesingsdag-jou-stem-en-jou-betaling-maak-saak

Fotokrediet: ChatGPT

Werk jy op verkiesingsdag? Jou stem én jou betaling maak saak

Deur Reon Janse van Rensburg

Jy betaal vir petrol om by die werk te kom, maar die pad is vol slaggate. Jy probeer ʼn sperdatum haal, maar die krag gaan af. Teen die tyd dat die munisipale verkiesing aanbreek, is dit aanloklik om te sê: “Wat sal my stem tog verander?” Vir ʼn jong werkende is die beter vraag: wie neem die besluite wat jou elke dag tyd en geld kos?

Op 4 November 2026 kies Suid-Afrikaners hul plaaslike verteenwoordigers en dit is jou geleentheid as Suid-Afrikaanse burger en belastingbetaler om die munisipaliteit in jou dorp tot verantwoording te roep. Soos Nico Strydom vroeër vanjaar verduidelik het, raak munisipale bestuur onder meer water- en elektrisiteitsvoorsiening, vullisverwydering, plaaslike paaie en tariewe. Dit beïnvloed hoe betroubaar jou omgewing funksioneer wanneer jy moet werk, ʼn onderneming wil begin of dit wil laat groei, en hoe doeltreffend dienste op plaaslike vlak gelewer word.

ʼn Stem herstel wel nie oornag ʼn stukkende pyp nie, maar dit help om te bepaal wie die begroting goedkeur, watter probleme voorrang kry en wie ná die verkiesing aanspreeklik gehou kan word. Wanneer jy besluit waar jy jou kruisie gaan trek, kyk verby al die beloftes wat ʼn party op ʼn plakkaat so plegtig maak – wie staan in jou wyk, wat sê hulle oor die probleme wat jy self ervaar, en hoe gaan jy later vasstel of hulle hul werk gedoen het?

Die president het 4 November as ʼn openbare vakansiedag verklaar om kiesers kans te gee om te gaan stem, maar ʼn openbare vakansiedag beteken wel nie dat alle ondernemings sluit nie. Hospitale, winkels en ander werkplekke moet steeds funksioneer. As jou naam op die rooster staan, het jy twee dinge wat jy betyds moet uitklaar: wanneer jy by jou stemlokaal kan uitkom, en wat jou betaling vir die dag behoort te wees.

Die president het werkgewers uitdruklik versoek om voorsiening te maak dat werknemers kan stem. Praat dus vroegtydig met jou werkgewer oor jou skof en ʼn praktiese stemgeleentheid. Moenie eers op die oggend self ontdek dat jou werkplek en stemlokaal ver van mekaar af is nie. Kontroleer jou registrasie en stemlokaal by die Verkiesingskommissie – in ʼn munisipale verkiesing moet jy stem waar jy geregistreer is. Indien jy nie op verkiesingsdag daar kan wees nie, ondersoek betyds of jy virʼn spesiale stem aansoek kan doen.

Jou betaling hang daarvan af of Woensdag normaalweg ʼn werkdag vir jou is. Volgens artikel 18 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes moet jy jou gewone loon kry as dit jou gewone werkdag is en jy nie werk nie. Werk jy wel op daardie dag, moet jy minstens dubbel jou gewone dagloon ontvang, of jou gewone dagloon plus wat jy vir die werk verdien het indien dit meer is. As Woensdag nie normaalweg jou werkdag is nie, maar jy werk tog, is die minimum jou gewone dagloon plus betaling vir die werk wat jy daardie dag verrig. Werk op ʼn openbare vakansiedag geskied by ooreenkoms.

Dié vakansiedag bied jou dus meer as ʼn moontlike blaaskans. Dit bied jou tyd om te besluit wie oor jou munisipaliteit moet regeer en indien jy daardie dag werk, verdien jy ʼn praktiese geleentheid om jou stem uit te bring én die betaling te ontvang waarop jy geregtig is.

As jy ná verkiesingsdag onseker is of jou betaling korrek bereken is, kan Solidariteit-lede gratis arbeidsregsadvies inwin of die Afrikaanse KI-assistent, Aanlyn Regshulp, op Solidariteit-aanlyn gebruik om die toepaslike reëls beter te verstaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel