loading
avatar
Artikels
22 uur gelede
afrikaners-kla-nie-hulle-bou

Fotokrediet: OkayDeer

Afrikaners kla nie – hulle bou

Deur Leré Nel

Wanneer ʼn gemeenskap in opleiding belê, bou hy aan sy vermoë om hier te bly en te floreer.

Dít het Afrikaners gou besef.

Navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) toon dat Afrikaners, ondanks hul kwesbare posisie as minderheidsgroep, nou sterker verenig is as ooit tevore. Connie Mulder, hoof van die SNI, sê die navorsing toon dat Afrikaners toenemend vervreem en onderdruk voel en ervaar dat hulle soos tweedeklasburgers behandel word.

“Ten spyte daarvan is Afrikaners nog deel van Suid-Afrika en baie lief vir hulle land – hulle hou net werklik niks van die ANC-regering nie,” sê hy.

Dit maak dus sin dat Afrikaners toenemend in die kragtigste instrument belê wat hulle ken: opleiding. Hulle glo dat opleiding die sleutel is om hier in Suid-Afrika ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te bou.

Navorsing toon dat al hoe meer Afrikaners die werk van die Solidariteit Beweging én inisiatiewe soos die Solidariteit Boufonds ondersteun.

Opleiding as fondament

“Opvoeding en opleiding lê nog altyd besonder na aan Afrikanerharte, van die Trap der Jeugd op Voortrekkerwaens tot hedendaagse ouerbetrokkenheid by skoolaktiwiteite,” skryf Mulder.

Volgens die SNI se 2024-profielstudie glo drie uit vier Afrikaners dat kinders onderrig in Afrikaans moet ontvang. Sewe uit tien meen dat Afrikanerkinders die geleentheid moet hê om aan ʼn Afrikaanse universiteit te studeer.

Dié behoefte gaan hand aan hand met kommer oor die volgende geslag se toegang tot gehalteopleiding. Mulder wys daarop dat kommer oor kinders se opleiding en toekoms ook tydens die SNI se fokusgroepe in 2025 na vore gekom het.

Dit help verklaar waarom instellings soos Sol-Tech en Akademia soveel ondersteuning en positiewe reaksie ontlok. Hulle gee praktiese gestalte aan ʼn gemeenskap se begeerte om jongmense in Afrikaans op te lei.

Vir die Solidariteit Boufonds is dit ʼn belangrike vertrekpunt. Elke opleidingsinstelling wat tot stand kom, moet uiteindelik mense help om hul potensiaal te verwesenlik. Die waarde van ʼn instelling lê in die vaardighede wat studente daar aanleer en die loopbane wat hulle daarmee kan begin bou.

Hoop wat tot bouwerk lei

Die navorsing waarna Mulder verwys, toon dat kommer oor Suid-Afrika se toekoms nie Afrikaners se geloof in gemeenskapsamewerking uitwis nie. Volgens die SNI-profielstudie glo ongeveer drie uit vier Afrikaners dat hulle die vermoë het om saam te werk en só ʼn voorspoedige toekoms te verseker.

“Afrikaners huldig die siening dat hulle ten spyte van die regering ʼn toekoms gaan uitkerf,” skryf Mulder.

Hierdie oortuiging vra egter meer as hoop; dit verg betrokkenheid. ʼn Kampus kry gestalte wanneer genoeg mense bereid is om die ontwikkeling daarvan te ondersteun. Opleidingsgeleenthede kan uitbrei wanneer ʼn gemeenskap saam verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Bydraes tot die Solidariteit Boufonds is ʼn integrale deel van hierdie praktiese antwoord op onsekerheid. Dit bied ondersteuners ʼn manier om reeds vandag betrokke te raak by die ontwikkeling van ruimtes waar die volgende geslag vir die werkplek en hul toekoms voorberei kan word.

Saam bou ons verder

Agter elke bydrae aan die Solidariteit Boufonds staan iemand wat glo dat jongmense hier ʼn toekoms kan hê. En agter elke opleidingsinstelling lê die moontlikheid dat ʼn jongmens met nuwe kennis en selfvertroue sy of haar plek in die werkplek sal kan inneem.

Dankie dat jy help bou aan daardie droom.

Soos Connie dit stel: “Ons gaan met genade van Bo en deur Afrikanerinstellings sélf vir ons ʼn toekoms bou.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel