Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Laat jou nalatenskap aan ʼn beter toekoms bou saam met Solidariteit
Deur Leré Nel
Wat jy vandag bou, kan nog lank ná jou voortleef en ʼn betekenisvolle verskil maak. Jou testament bied jou die geleentheid om self te bepaal hoe jou nalatenskap aangewend moet word en watter erfenis jy vir jou geliefdes én die volgende geslag wil agterlaat.
ʼn Mens werk hard om iets van waarde op te bou. Jy belê in jou gesin, jou loopbaan, jou eiendom en die dinge wat vir jou belangrik is. Tog dink mense dikwels eers later in hul lewe aan ʼn testament. ʼn Testament is egter noodsaaklik, en nie net vir ouer mense of diegene met baie bates of geld nie.
Sodra jy begin werk, eiendom of ander bates besit, of mense het vir wie jy omgee, is dit verstandig om jou wense op skrif te stel. ʼn Geldige testament help verseker dat jou nalatenskap volgens jou wense hanteer word en bied jou die geleentheid om ook jou nalatenskap te gebruik om ʼn verskil te maak.
Het jy nog nie ʼn testament nie?
As jy ʼn lid van Solidariteit is, sal jy hulp kry om jou testament gratis op te stel. Jy kan ook raad ontvang oor hoe jou nalatenskap gebruik kan word om ʼn blywende verskil te maak. Indien jy reeds ʼn testament het, is dit belangrik om dit gereeld te hersien en seker te maak dat dit steeds jou huidige omstandighede en wense weerspieël.
Een manier waarop jy ʼn groter impak kan maak, is deur ʼn bemaking aan die Solidariteit Boufonds in jou testament op te neem. Die Solidariteit Boufonds help om volhoubare instellings te bou wat gemeenskappe versterk en die volgende geslag toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om hier aan die suidpunt van Afrika ʼn toekoms te bou.
Jou geld kan dus meer beteken as bloot ʼn bedrag wat van een persoon na ʼn ander oorgedra word. Dit kan help om instellings tot stand te bring wat nog dekades lank waarde sal skep. Deur ʼn bemaking aan die Solidariteit Boufonds te maak, kan jy bydra tot die ontwikkeling van instellings soos Akademia, waar jongmense toegang tot hoëgehalte-opleiding in Afrikaans en nuwe geleenthede kry.
ʼn Bemaking aan die Solidariteit Boufonds hoef nie jou verantwoordelikheid teenoor jou geliefdes te vervang nie. Dit bied jou bloot die geleentheid om, benewens dit wat jy aan jou familie nalaat, ook ʼn deel van jou nalatenskap aan ʼn saak te wy wat vir geslagte lank ʼn verskil kan maak. Só kan die waardes waarvoor jy jou lewe lank gestaan het, verder voortleef.
Laat jou nalatenskap iets bou
Dit wat jy vandag help bou, kan nog lank ná jou voortleef. Laat jou testament nie net iets nalaat nie, maar ook help om iets blywends te bou.
Moenie belangrike besluite uitstel nie. Stel vandag nog jou testament gratis saam met Solidariteit op en bou saam met Solidariteit aan ʼn nalatenskap wat ʼn verskil maak!