loading
avatar
Artikels
10 uur gelede
skaduwerk-n-brug-tussen-jong-talent-en-werkgewers

Fotokrediet: Facebook | Dream Recruitment

Skaduwerk: ʼn brug tussen jong talent en werkgewers

Deur Leré Nel

Om ʼn loopbaan te kies sonder om die werklikheid van die beroep te ken, is ʼn groot risiko. Daarom werk Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling saam met Dream Recruitment & Career Services om jong mense deur skaduwerk en internskappe aan die wêreld van werk bloot te stel en terselfdertyd werkgewers toegang tot gemotiveerde jong talent te bied.

Dream Recruitment is gestig vanuit ʼn behoefte wat die operasionele direkteure, Arlené Oosthuizen en Charmaine Hurter, as ma’s raakgesien het: jong mense kry nie altyd genoeg praktiese leiding om ingeligte loopbaankeuses te maak nie.

“Daardie bekommernis wat ons oor ons eie kinders gehad het, het gelei tot ʼn passie om jong mense te help ontdek wie hulle is en watter pad hulle moet volg,” sê Oosthuizen. “Ons glo dat skaduwerk en internskappe die brug tussen drome en die werklikheid is.”

Wat is skaduwerk en internskappe?

Skaduwerk is gewoonlik ʼn korttermyngeleentheid waartydens ʼn leerder ʼn werknemer of professionele persoon in die werkplek volg en waarneem. Dream Recruitment se skaduwerkprogram duur gewoonlik een week gedurende ʼn skoolvakansie en is veral geskik vir leerders van ongeveer 16 jaar en ouer.

ʼn Internskap strek oor ʼn langer tydperk en bied meer praktiese ervaring en geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling. Dit is veral waardevol vir jong mense wat reeds skool voltooi het en werkervaring wil opdoen voordat hulle die arbeidsmark betree. Beide skaduwerk en internskappe bied aan jong mense die geleentheid om te bepaal of ʼn beroep werklik by hul belangstellings, vermoëns en verwagtinge pas.

Corné Hurter, ʼn derdejaarstudent wat Dream Recruitment se skaduwerkprogram voltooi het, het dit eerstehands ervaar. Hy het op hoërskool ernstig oorweeg om ʼn argitek te word, maar het reeds op die eerste dag van sy skaduwerk besef dat dit nie die regte rigting vir hom is nie. Nadat industriële ontwerp as ʼn geskikte loopbaan vir hom geïdentifiseer is, is hy by ʼn ander  onderneming geplaas, waar hy dadelik aanklank gevind het.

“Die skaduwerkprogram het my nie net gehelp om die regte loopbaan te vind nie, maar het my ook verbind met mense wat my loopbaan rig en ondersteun,” vertel hy. Corné keer selfs ná sy skaduwerk steeds na die onderneming terug vir raad en het een van die bestuurders as mentor gekies.

ʼn Voorsprong vir toekomstige werknemers

Skaduwerk gee jong mense ʼn realistiese blik op die daaglikse verantwoordelikhede en uitdagings van ʼn beroep. Hulle leer ook werkpleketiket, hoe ʼn werkplek funksioneer en watter vaardighede hulle nog moet ontwikkel.

Volgens Charmaine Hurter stap deelnemers met groter selfvertroue, praktiese insig en ʼn netwerk van kontakte weg. “Die ervaring en terugvoer kan ook op hul CV’s aangebring word en hul kanse op toekomstige indiensneming verbeter,” sê sy.

Die waarde daarvan strek verder as wat in ʼn klaskamer geleer kan word.

Regardt Strydom, ʼn skolier wat ook die program voltooi het, het daardeur blootstelling aan ʼn meganiese werkwinkel en die loodgieterbedryf gekry.

“Dit het my in staat gestel om by mense in die bedryf te leer, ervaring op te doen en ʼn netwerk op te bou. Dit is alles meer werd as enigiets wat ek op skool kon leer,” sê hy.

Werkgewers bou hul eie talentpyplyn

Skaduwerk en internskappe gee werkgewers die geleentheid om jong mense se ingesteldheid, werketiek en potensiaal vroeg reeds waar te neem. Leerders wat hulself bewys en gretig is om te leer, word dikwels weer genooi om verdere ervaring op te doen. Só kan ondernemings ʼn talentpyplyn vir toekomstige internskappe, vakleerlingskappe en permanente aanstellings begin bou.

Dream Recruitment ondersteun die hele proses. Leerders word vooraf voorberei, persoonlik aan die werkgewer bekendgestel en moet ʼn werkplekveiligheidsinduksie voltooi. Die span besoek deelnemers gedurende die program en samel daarna terugvoer van die leerder én werkgewer in.

Hierdie terugvoer help jong mense om te groei en leer hulle reeds vroeg hoe prestasiebeoordeling in die werkplek funksioneer. Dit help Dream Recruitment ook om die program voortdurend te verfyn.

“Ons glo dat elke jong mens ʼn unieke pad het,” sê Oosthuizen. “Deur skaduwerk en internskappe help ons hulle om daardie pad met selfvertroue te betree.”

Werkgewers wat hul kennis, tyd en werkomgewing beskikbaar stel, skep dus nie net geleenthede vir jong mense nie, maar help ook om ʼn beter voorbereide, meer ervare en gemotiveerde toekomstige arbeidsmag te bou.

Skep jou werkgewerprofiel op Solidariteit-aanlyn en begin die pad saam met Solidariteit stap!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel